Mynman verdedig Maroga se salaris

Bobby Godsell, Eskom-voorsitter en regterhand van mynbelange in Suid-Afrika, het Dinsdag aan die portefeuljekomitee vir openbare ondernemings gesê dat Jacob Maroga se salaris van R5 miljoen per jaar toepaslik is.

Godsell het gesê mediaberigte oor ’n 26,7%-verhoging is “misleidend en onbehulpsaam” want Maroga het ’n verhoging van 9% gekry en geen bonus nie.

Daar is glo besluit om die betaling van langtermynbonusse uit Eskom se aandeleskema, uit te stel totdat die maatskappy finansieel gelyk breek, het hy gesê.

Godsell sê ’n “intelligente debat” moet gevoer word oor Maroga se salaris omdat Eskom ’n omset van meer as R100 miljard per jaar het.

'n Internasionale kundige het Maroga dadelik nadat hy aangestel is, gewaarsku oor ’n dreigende krisis weens Eskom se steenkoolvoorraad, maar hy het dit klaarblyklik geïgnoreer. Die voorsieningskrisis het die land in Januarie 2008 getref.

Maroga verdien twee keer meer as die president, volgens Pieter van Dalen van die DA. Hy het gesê die verhoging is boonop toegestaan ná die kragkrisis waarvoor verbruikers steeds moet opdok.

Barbara Hogan, minister van openbare ondernemings, het aan die portefeuljekomitee gesê krag teen die huidige prys aan verbruikers is nie volhoubaar nie.Eskom kan nie met sy kapitale uitbreidingsprogram van R400 miljard voortgaan teen huidige tariewe nie, het sy gesê.

how to play cludoтопкарго развод