Die polisie word betrek by die ontvoering en moord van ‘n winkeleienaar by die Montana-handelaarsmark in die noorde van Pretoria.
Usman Saeed se liggaam is in Desember verlede jaar langs ‘n grondpad naby Cullinan gevind.
Die ondersoekbeampte, Mari Petzer, het aan die landdroshof in Pretoria-Noord gesê getuies sal getuig dat een van die ontvoerders ‘n polisie-uniform gedra het en dat die beskuldigde ‘n dag voor die ontvoering ‘n vergadering met polisielede gehad het.
Abdul Rana Raulf, Amir Shah en Schabir Mohamed doen aansoek om borgtog op aanklagte van moord en ontvoering.
Saeed se vrou, Lynette, sê dit was veral gister baie moeilik vir die familie omdat haar suster, Odette haar matriekuitslae gekry het.
“Dit was ‘n baie emosionele oomblik omdat hy haar belowe het dat hy haar ‘n duisend rand vir elke onderskeid wat sy kry, sal gee. Vanoggend [Dinsdag] toe sy het haar resultate gekry en sy het vyf onderskeidings. Dit was baie oorweldigend, want hy is nie hier om dit met ons te deel nie.”
Die borgtogaansoek sal Vrydag voortgaan.
