Minderjariges behoort nie eed te sweer

Die Christelike etos bepaal dat die aflegging van ’n eed by hoë uitsondering en onder baie spesiale omstandighede mag geskied omdat dit ’n vaste onderneming teenoor God en bindend op die gewete is.

Daar is heelparty kerkgenootskappe wat die aflegging van ’n eed geheel en al afkeur en selfs verbied. 

Die belydenis van geloof, wat gelowiges by elke erediens aflê, is nie ’n eed nie, maar ’n belydenis. Tog word dit as ’n baie ernstige geestelike onderneming bejeen.

In die Romeins-Hollandse reg word die neem van die eed “dat die waarheid en niks anders as die waarheid” in getuienis gelewer sal word, nie onverbiddelik afgedwing nie. ’n Getuie kry byvoorbeeld die keuse om dit aan die hof te stel dat hy of sy bevestig dat hy of sy die waarheid en niks anders as die waarheid in sy of haar getuienis sal praat.

Wanneer ’n getuie dan hierdie eed of bevestiging verbreek deur onwaarhede tydens die lewering van getuienis te verkondig, en daardie doelbewuste onwaarhede kan bewys word, word die getuie ingevolge wetgewing van meineed aangekla en by skuldigbevinding in ’n hof swaar gestraf.

Op die hoogste vlak van ’n georganiseerde samelewing van die hoogste orde is die neem van ’n eed deur ’n landsburger dus opsioneel en word ’n baie hoë premie op daardie keuse geplaas. Die aflegging van ’n eed is dus iets baie buitengewoons en behoort nooit ligtelik gedoen te word nie.

Van kinders wat nie mondig is nie en ook nie stemreg het nie­ ­- en dus by implikasie nie die gewigtigheid van die neem van ’n eed ten volle kan besef nie – kan nie verwag word om ’n eed binne ’n openbare opvoedingsopset  af te lê omdat die betrokke onderwysdepartement dit voorskryf nie.

для компрессораФильчаков