Breyten en 24 ander kritiseer Britse premier oor hy linkse menseregtewet wil afskaf

Die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach het onlangs, tesame met nog 24 ander Suid-Afrikaners, ‘n ope brief aan die Britse eerste minister, David Cameron, gerig waarin hulle hom kritiseer omdat hy die huidige Menseregtewet (“Human Rights Act”) in dié land wil afskaf. Volgens die Britse Konserwatiewe Party word die wet onder andere deur misdadigers misbruik om hul uitlewering te beveg. Die wet is ook erg op ras ingestel en maak vir regstellende aksie voorsiening.

Die skrywers van die ope brief, waaronder aartsbiskop Njongonkulu Ndungane, die skrywer Mandla Langa, die Robbeneilandgevangene Denis Goldberg en Zackie Achmat druk hul “afsku” uit oor die Konserwatiewe Party se plan om die Menseregtewet af te skaf. In ander verklarings het die Party egter gesê dat Brittanje hom nie van die Europese Konvensie oor Menseregte gaan onttrek nie.

Volgens Mandla Langa, verkeer Brittanje onder ‘n morele verpligting om na linkse Suid-Afrikaners te luister omdat dié land die ANC in sy stryd teen die vorige Suid-Afrikaanse regering in Londen gehuisves het. Langa sê:

“Ek voeg my by die meerderheid van die mensdom wat meen dat die internasionale veldtogte vir die aftakeling van apartheid in Suid-Afrika deur die gesaghebbende stem van die Britse volk versterk is.

“Aangesien ek insgelyks glo dat ‘n onreg op enige plek ‘n onreg oral op aarde is, is ek persoonlik met afgryse vervul dat die Britse regering beplan om die Menseregtewet te herroep wat angs by baie, baie mense gaan veroorsaak.”

Volgens Goldberg, “…het Brittanje in die stryd teen apartheid ten gunste van menseregte een van die ANC se hoof- internasionale kantore gehuisves.

“Die volk van Brittanje het deur die anti-apartheidsbeweging aan ons manjifieke steun verleen vanweë hul geloof dat menseregte verdedig moet word. Dit sou ‘n treurige dag wees indien Brittanje sy menseregtewetgewing afwater waarvoor daar oor geslagte heen geveg is en wat deur verskeie regerings ingestel is.”