Gautengse premier ‘beplan 3 megastede’ in provinsie

Die ANC-premier in die Gautengprovinsie, David Makhura, het aangekondig dat hy beplan om drie “nuwe stede” in die provinsie te vestig.

Die presiese liggings word tans nog geheim gehou, maar Makhura het laat blyk dat die stede aan die Wesrand en in “Sedibeng” oftewel die Vaaldriehoek sal wees.

megacity_-_still_asleep‘n Aankondiging sal blykbaar aanstaande jaar gedoen word.

“Teen daardie tyd sal ons die kwessies van grond en wie daarin gaan belê, opgelos het,” sê Makhura.

“Betreffende die bou van nuwe menslike vestigings en nuwe stede, het ons nou die plan oor waar ons nuwe mega- menslike vestigings oor die volgende vyf jaar gaan bou tesame met munisipaliteite voltooi.

“Hierdie Gautengse menslike vestigingsplan sal beleggings in grootmaatinfrastruktuur rig en sal ook beslag aan ons openbarevervoer- en ekonomiese ontwikkelingsplanne gee,” het hy bygevoeg.

Die plan word reeds gekritiseer omdat die skep van Stalinistiese megamunisipaliteite of “metro’s” dienslewering bemoeilik en korrupsie stimuleer. Die drie metro’s in die provinsie sukkel steeds om rekeninge aan verbruikers te lewer nadat die onderliggende munisipaliteite jare gelede reeds saamgesmelt is.