Agtien MDC-ondersteuners is weer in hegtenis geneem, onder wie me. Justina Mukoko, gerespekteerde menseregte-aktivis, asook vakbond- en studenteleiers. Haar ondersteuners het in trane uitgebars. Sy is voorheen in aanhouding gemartel.
Al 18 was vry op borgtog, maar is gister by hul herverskyning voor ’n hof in opdrag van landdros Catherine Chimanda in Harare weer opgesluit. Hulle word aangekla van onder meer boewery en terrorisme.
Amnestie Internasionaal het in New York gesê die stap kaats 'n ernstige skadu oor die Zimbabwiese regering se bereidwilligheid om die vervolging van politieke opponente te staak.
“Die hof besluit is ’n ernstige bedreiging vir die lewe, gesondheid en volhoubaarheid van die eenheidsregering. Dis ’n flagrante miskenning van die beginsels waarop die regering tot stand gekom het,” het Tsvangirai se Beweging vir Demokratiese Verandering in ’n verklaring gesê.
Tsvangirai is onder druk van Zanu-PF om die internasionale gemeenskap te oortuig om Zimbabwe van geldhulp te voorsien.
Die VSA, Brittanje, die Europese Unie en verskeie internasionale instellings weier om Zimbabwe te ondersteun totdat daar sekere hervormings onderneem is. Brittanje en die VSA beskou die voortgesette aanhouding en teistering van Mugabe se politieke opponente as die grootste struikelblok om hulp te ontset.
Zimbabwe het sover R3,4 miljard se kredietfinansiering van SAOG-lande teen gewone bankkoerse te bekom.
