Die oorskot van Johan Nel (36), ’n geotegnikus van Louis Trichardt wat op 8 September 2008 in ’n motorongeluk naby Brits oorlede is, is byna 11 maande na sy dood opgespoor, nadat sy verkoolde oorskot deur die staatslykshuis op Brits verloor is.
ʼn Taakspan – wat op versoek van Nel se ouers, Frik en Sougnet Nel, en AfriForum deur die premier van Noordwes, Maureen Modiselle, daargestel is om ondersoek na die gebeure in te stel – het Nel se oorskot opgespoor. Onafhanklike forensiese toetse het intussen bevestig dat die oorskot wel dié van Nel is.
Nel se ouers het die opsporing van hulle seun se oorskot by monde van Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verwelkom.
Die taakspan se verslag, wat meer duidelikheid sal bring oor hoe dit moontlik is dat Nel se oorskot kon verdwyn, word tans deur Nel se familie afgewag.
Volgens Kriel hoop Nel se ouers dat die taakspan se verslag oor die gebeure daartoe sal bydra dat ʼn herhaling van soortgelyke gebeure voorkom kan word. Kriel het daarop gewys dat Johan se ouers juis besluit het om nie die stryd gewonne te gee nie, omdat hulle wil toesien dat niemand anders deur dieselfde trauma as hulle moet gaan nie.
Nadat Nel se ouers die verslag ontvang en bestudeer het, sal hulle volgens Kriel besluit oor die noodsaak om verdere stappe te neem.
Die gebeure wat tot die daarstelling van die taakspan aanleiding gegee het, is dat onsekerheid bestaan het oor waar Nel se oorskot was, ten spyte daarvan dat twee lyke wat as armlastiges begrawe is, opgegrawe is en drie lyke aan Nel se pa gewys is.
