
‘n Taxibestuurder van Limpopo, Louis Mabokela is skuldig bevind aan moedswillige saakbeskadiging.
Hy het verlede jaar ‘n skildery van president Jacob Zuma in die Goodman gallery in Rosebank beskadig.
Die Hillbrow landdroshof het bevind dat Mabokela doelbewus die skildery, waarop die president met ontblote geslagsdele uitgebeeld word, beskadig het.
Hy is tot ses maande tronkstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is. Die landdros het gewaarsku dat indien Mabokela voortaan aan ‘n soortgelyke oortreding skuldig bevind word, hy beslis tronk toe sal gaan.
Mabokela hou vol dat hy niks verkeerd gedoen het nie en bloot Zuma se waardigheid beskerm het.
Die skildery is glo sowat R100 000 werd, maar is nou méér werd nadat dit beskadig is. – RSG
