ANC-raadslid Werner Scwhella sê hy is uiters bekommerd oor die groot getalle mense wat sonder lisensies bestuur. Hy sê die vraag is of mense bloot die reg verontagsaam en of hulle die kans waag om sonder lisensie te bestuur weens die lang wagperiode. Kroll Background Screening-bestuurshoof Ina van der Merwe sê terwyl dit waar is dat daar lang wagperiodes by toetsentrums is, verskoon dit nie opportunistiese bestuurders wat kortpad kies en lisensies van korrupte beamptes koop nie. Sy sê baie werkplekke vereis dat 'n werknemer moet reis.
Baie werknemers verkies om sonder lisensie te bestuur as om hulle werk te verloor. In gevalle waar 'n bestuurslisensie 'n voorvereiste vir indiensneming is, verkies die werknemer om eerder 'n vals lisensie te koop as om die risiko te loop om nie die werk te kry nie. Van der Merwe sê werkloosheid is baie hoog en mense is desperaat.
Volgens die Metropolisie se kwartaalverslag het Kaapstad se verkeersafdeling gedurende April, Mei en Junie vanjaar 19 234 ongelisensieerde bestuurders en net minder as 11 000 ongelisensieerde voertuie hanteer. Waarnemende veiligheids- en sekuriteitsdirekteur Heathcliff Thomas sê die wagperiode vir 'n nuwe lisensie is landswyd nege maande maar Kaapstad het die wagtyd na 'n gemiddeld van ses maande verminder.
Willie Meyer, hoof van van die Spesiale-ondersoekeenheid sê sy ondersoekers het 350 lisensiekantore besoek en 1,4 miljoen lêers deurgewerk. Uit dié ondersoek was dit duidelik dat 91 596 bestuurders se lisensies ongeldig was. Hy sê die huidige situasie maak die lewe vir keuringsmaatskappye baie moeilik.
Hulle word verplig om 'n lisensie geldig te verklaar totdat dit deur die departement van vervoer gekanselleer is. Kroll Background Screening, die grootste maatskappy van sy soort in Suid-Afrika, prosesseer miljoene navrae oor die egtheid van bestuurslisensies, paspoorte, grade en diplomas.
Van der Merwe sê een van die grootste probleme wat hulle in die gesig staar, is dat die houers van vals lisensies dalk in beheer van busse is, wat 'n risiko op die lewe van duisende pendelaars plaas. Van der Merwe het 'n beroep op die departement gedoen om die probleem ernstig aan te spreek en vals lisensies uit sirkulasie te kry. Sy sê dit is net so belangrik dat lisensiekantore wat baie van dié vals lisensies uitreik, gesluit moet word.
