
Libië se eerste minister, Ali Zeidan, is Donderdagoggend deur ‘n gewapende groep ontvoer, het dié land se regering gesê.
“Die hoof van die oorgangsregering, Ali Zeidan, is buite ‘n hotel in Tripoli ontvoer deur mans, wat vermoedelik voormalige rebelle is, het die regering in ‘n kort verklaring op sy webtuiste gesê.
Die groep het nog nie enige voorwaardes gestel nie, het AFP berig.
Die Al-Arabiya televisiekanaal het beeldmateriaal uitgesaai waarin gewapende mans hom by sy hotel in Tripoli wegvoer.
Volgens een van die hotel se wagte, was dit ‘n inhegtenisneming, maar ‘n ander ooggetuie het die mans as militante beskryf.
Zeidan is moontlik in weerwraak gevange geneem vir sy regering se rol in die ondersteuning van die VSA in die onlangse arrestasie van ‘n vermeende Al Kaida-leier.
Twee jaar sedert Moemmar Gaddafi vermoor is, is die land se regering steeds in chaos gedompel weens milisies en Islamitiese militante wat groot dele van die land beheer.
