Hy het gesê die beleid van die party sal uitgewerk word wanneer dit formeel aangekondig word op 16 Desember.
Die Volkskongres stem ook nie saam dat die land se sekuriteitsinstellings met enige politieke party geallieerd is nie.
"Dit is verkeerd om die sekerheidsmagte met 'n party geallieerd te hê. Ons sal nooit toelaat dat die SANW polities georiënteerd is nie. Hoe sal die bevolking voel met 'n weermag wat polities georiënteerd is?"
"Indien ons die mandaat kry, sal ons wetgewing skep wat die polisie, inligtingsdienste en weermag apolities laat. Hulle werk is om die konstitusie te beskerm" het hy gesê.
Met verwysing na die polisie, het hy gevra hoekom daar nog nie 'n enkele ANC-lid in hegtenis geneem is deur die polisie nadat verskeie Volkskongres vergaderings, insluitende die mees onlangse een in Verulam, naby Durban, deur ANC-lede ontwrig is nie.
Meer as 200 mense, meeste met T-hemde met Jacob Zuma se gesig op en Zumaplakkate in die hande, het by die saal ingebars en getoi-toi, wat die vergadering ontwrig het waar hy veronderstel was om te praat.
Die ANC se provinsiale sekretarisgeneraal, Senzo Mchunu, het Vrydag gesê dat Lekota moet fokus op beleid en moet ophou om die gewone partylede kwaad te maak deur "op hulle te urineer."
Kort nadat Lekota die Bayviewgemeenskapsaal verlaat het, het 'n groep van 40 mense wat Zuma se kleure gedra het opgedaag en die pad geblokkeer, nadat hulle deur die polisie van die perseel af weggewys is.
Polisie moes ook tussenbeide tree om te verseker dat die plaaslike Volkskongresorganiseerder, Phillip Mhlongo, kon padgee nadat ANC-ondersteuners sy kar omsingel het.
Die vergadering sou oorspronklik by 'n skool plaasvind, maar volgens die organiseerders is die plek op die laaste oomblik verander vir sekuriteitsredes.
