Polisie monitor steeds situasie in Langa

Die polisie het die situasie in Langa op die Kaapse Vlakte deur die nag gemonitor.

Dit volg na gewelddadige betogings in die gebied waarin die poskantoor aan die brand gesteek en winkels geplunder is.

Die polisie het 40 mense op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem. Inwoners eis nou dat hulle vrygelaat word.

Sowat 30 polisievoertuie en ‘n polisiehelikopter is gebruik om die betogers uiteen te jaag.

Die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, sê daar was ook ‘n poging om ‘n trein aan die brand te steek.

Brandende buitebande is op die spoorlyn gelaat en een van die sinjaalkaste is uitgebrand.

Die inwoners het ook polisievoertuie en motors onder die klippe gesteek. Een oproerige is met ‘n petrolbom vasgetrek.

Oproeriges brand DA-kantoor af

burningtyresOproeriges het Donderdagmiddag ‘n gemeenskapsaal, gesondheidskliniek en nuutgeboude kantore van die DA aan die brand gesteek in die Oos-Kaap.

Die situasie op Uitenhage bly gespanne na die geweld op die dorp uitgebreek het.

Die polisie het gesê buitebande is deur die nag aan die brand gesteek in Langa, Kamesh, Rosedale en Blikkiesdorp.

Geweld het uitgebreek toe die munisipaliteit van die Nelson Mandelabaai metro die onwettige krotte wat deur grondbesetters opgerig is, begin afbreek het.

Die metro het vroeër ‘n interdik gekry om die krotte te verwyder.

Vier mense is in hegtenis geneem en die polisie is in die gebied ontplooi.