Die Vryheidsfront Plus het ‘n verslag van die Tshwanemetroraad se burgemeesterskomitee verwelkom waarin vermeld word dat ‘n beplande standbeeld van Nelson Mandela nie op Kerkplein in Pretoria opgerig sal word nie, maar eerder by die Ou Sinagoge-perseel nie ver daarvandaan nie.
Kerkplein was volgens die verslag een van tien moontlike staanplekke van die standbeeld, maar daar is na ‘n evaluasieproses besluit dat die plein nie geskik daarvoor is nie.
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, was die VF Plus bekommerd oor die feit dat Kerkplein as ‘n moontlikheid ingesluit is, veral in die lig van vorige uitsprake deur ANC-raadslede dat Paul Kruger se standbeeld mettertyd uit Kerkplein verwyder moet word.
Die Ou Sinagoge is ‘n meer gepaste staanplek vir die standbeeld omdat die verhore van hoogveraad van 1958 tot 1963, waarin Mandela self tereggestaan het, by die Ou Sinagoge plaasgevind het.
Beide Paul Kruger en Nelson Mandela word deur onderskeie dele van die Suid-Afrikaanse bevolking as vryheidsvegters beskou en dit is daarom volgens die VF Plus gepas dat die een standbeeld nie in opposisie tot die ander een opgerig word nie.
