Britte vandag na die stembus

Die Britte gaan vandag stembus toe met peilings wat volgens die BBC aan die Konserwatiewe Party van premier David Cameron ’n voorsprong van 34% gee, teenoor die 33% van Ed Miliband se Arbeiders, 14% van Nigel Farage se Ukip en 8% van Nick Clegg se Libe­raal-Demokrate.

Dit wil egter lyk asof die Tories selfs in ‘n koalisie met die LibDems nie ‘n volstrekte meerderheid sal kan behaal nie.

Die Noord-Ierse Unioniste en Ukip se steun sal waarskynlik nodig wees vir ‘n Torie-bewind.

Clegg, leier van die pro-Europese LibDems, het in ’n onderhoud intussen aangedui dat Cameron se beloofde referendum oor Britse lidmaatskap van die Europese Unie vir sy party onaanvaarbaar sal wees.

Die Arbeidersparty se kanse lyk beter, met die Skotse Nasionale Party (SNP) wat byna skoonskip in Skotland sal maak, alhoewel Miliband verlede week in ’n televisiedebat ’n koalisie met die SNP kategories verwerp het.

Indien die Tories ‘n minderheidsregering wil vorm, sal die Arbeiders dit dadelik glo mbv ‘n mosie van wantroue troef.

“Rooi Ed” Miliband het probeer stemme trek van armes deur te wys hoe proletaries hy leef, dit blyk nou dat hy vir sy kiesers gelieg het daaroor.

Dit het op die lappe gekom dat die armoedige kombuis waar hy saam met sy gesin afgeneem is, een van twee in sy huis is waar niemand ooit kom nie. Die ander kombuis is besonder luuks.