‘n Man is by die King Shaka Internasionale Lughawe in Durban in hegtenis geneem nadat kokaïen met ‘n geraamde straatwaarde van R600 000 in sy besit gevind is, het die polisie in KwaZulu-Natal Dinsdag gesê.
Kapt. Thulani Zwani het gesê die man is Maandag vasgetrek.
“Die Boliviaanse man was op ‘n vlug vanaf Brasilië via Doebai en is met sy aankoms om 17:00 in hegtenis geneem.”
Zwane het gesê die polisie en doeanebeamptes het ‘n wenk ontvang dat dwelms na Durban vervoer word.
“Die verdagte is geïdentifiseer en aangekeer. Sy bagasie is deursoek en beamptes het twee pakkies met sowat 2 kg kokaïen met ‘n geraamde straatwaarde van sowat R600 000 gevind.”
Hy is in hegtenis geneem en aangekla van dwelmhandel. Die man sal na verwagting Dinsdag in die Verulam-landdroshof verskyn. – Sapa
