Brandstofkrisis staar Namibiërs in gesig

Vakansiegangers op pad na feestydbestemmings in Namibië kan hulle in die komende dae voor leë brandstofpompe bevind.

Mielieboere is boonop tans besig om hul lande vir die plantseisoen gereed te kry, wat die vraag na diesel verhoog, het die Republikein berig.

TransNamib het gister erken hy ervaar “reuse-uitdagings” om grootmaat vraggoedere, insluitend brandstof, na die onderskeie leweringspunte in die land te vervoer.

Dit is weens die nasionale karweier se tekort aan werkende lokomotiewe.

‘n Bekommerde bron in die brandstofbedryf voer aan die ander rede is dat TransNamib self nie oor genoegsame brandstofvoorrade beskik om sy lokomotiewe operasioneel te hou nie, glo omdat die nasionale karweier nie sy leweransiers kan betaal nie.

Ailly Hangula-Paulino, woordvoerder van TransNamib, het by navraag erken dié vervoerreus se brandstofvoorraad “is nie op die gewenste vlak nie”. Volgens haar is wanbetaling egter nie die rede daarvoor nie, maar wel vervoerprobleme.

Hangula-Paulino sê TransNamib is die voorkeurverspreider van petrol en diesel aan die brandstofbedryf, maar kan as gevolg van die probleme wat hy ondervind nie aan die vraag na lewering voldoen nie.

“Dit is nie net tot sekere dorpe in die land beperk nie, maar tref verbruikers op ’n groter skaal,” het Hangula-Paulino gesê. Al oplossing is om dit per pad met brandstoftenkers te vervoer.

“Hoewel die vraag na brandstof toeneem, is daar terselfdertyd tans ’n afname in die vraag om ander goedere per spoor te vervoer en daarom behoort die situasie nie verder te versleg nie,” het Hangula-Paulino gesê.

Sy waarsku egter dat die tekort op sekere dorpe en by sekere brandstof-depots kan vererger.

Michael Feldmann, bedryfshoof van TransNamib, het twee weke gelede in ’n verklaring gesê die nasionale karweier het die afgelope maande by verskeie geleenthede sy kliënte gefaal. Hy het in ’n verklaring gereageer op navrae deur joernaliste oor passasierstreine wat op pad na Keetsmanshoop gestrand geraak het en gesê: “Aanvaar asseblief my verskoning vir die swak diens wat die publiek die afgelope maande ervaar het. Dit is nie goed genoeg nie en ons skuld die publiek ‘n verskoning oor wat gebeur het en wat ons doen om dit te verbeter.”

Hy het dit aan die verouderde lokomotiewe toegeskryf.

TransNamib het sowat drie maande gelede ‘n multimiljoen dollar omkeerplan van 180 dae aangekondig.