Het die Afrikaanse letterkunde misluk?

Onlangs val dit my op dat Karel Schoeman reeds drie keer die Hertzogprys vir prosa ontvang het. Is daar só min bekroonbare skrywers in Afrikaans dat dit nodig was om Schoeman drie keer te beloon, wonder ‘n mens?

Die Sweedse Akademie het dit nog geensins nodig gevind om enige Afrikaanse skrywer met ‘n Nobel te vereer nie. Terwyl twee sulke middelmatige romansiers soos Nadine Gordimer en J.M. Coetzee vanuit die piepklein Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde reeds daardie onderskeiding te beurt geval het.

Word daar deesdae enigiets in Afrikaans gepubliseer waaroor ‘n mens opgewonde kan raak of wat iets sinvols oor ons bestaan in die wye en droewe land te sê het? Onlangs ontmoet ek ‘n meisie wat verlede jaar in matriek was en sy sê spontaan vir my dat “sy verkies om ou boeke te lees want die taal is beter”. ‘n Nogal verdoemende uitspraak.

Die polemiek rondom Jackie Nagtegaal se Daar’s vis in die punch het Afrikaanse literatore in twee kampe verdeel: dié wat Standaardafrikaans as die Stradivarius sien waarsonder geen violis behoorlike musiek kan maak nie, en die voorstanders van Kreools. Nie net het Nagtegaal se Engfrikaanse novelle ‘n klomp pryse ingepalm nie, maar sowel André P. Brink as Antjie Krog het haar taalgebruik as die soveelste geoedipaliseerde “opstand teen die vaders” in Afrikaans verwelkom. Brink het Nagtegaal selfs met Françoise Sagan vergelyk.

In ‘n veelseggende epos aan die Kleinmond-leeskring skryf Nagtegaal: “Kom ons begin maar by die drugs en die taal. Dis die twee main goed waaroor almal altyd wil praat. En nee ek is nie so seer gatvol nie. Dink net dit is uit proportion uitgeruk. (My Afrikaans gaan tien teen een nog slegter wees in die e-mail want hier’s nie ‘n speltoetser op my e-mail nie en ek gebruik eerder ‘n engelse woord as ‘n verkeerd gespelde Afrikaanse woord en daar bly nie Tafelberg editors in my outbox nie)”

In die dialoog van Karin Brynard se speurverhale en Kerneels Breytenbach se erg pretensieuse Piekniek by hangklip vind ‘n mens dieselfde hunkering na platvloersheid en Kreools. Brynard het een van die amusantste onlangse uitsprake gelewer: “Ek het geen ambisie gehad om ‘n skrywer te word nie.”

Dit strek egter verder as bloot Engfrikaans. Dis asof die hele moderne beweging in Afrikaans, wat hom glo van “mooiskrywery” wou weerhou, afkerig teenoor literêre styl staan. So min of meer die teenoorgestelde van Georges-Louis Leclerc se spreuk: “Die styl is die man self.”

Dis asof die fameuse Patriot-motto van weleer, “skryf soos jy praat”, teruggekom het om by ons te kom spook. Jou tuinier praat beter as sommige skrywers en gelukkig skryf hy dit nie neer nie, anders as hulle.

Almal is nie Proust of Joyce nie. Miskien kan ‘n skrywer nog met swak taal en styl verbykom, solank hy oor ‘n idee beskik. Maar dis nou juis hier waar ons Afrikaanse skrywers in hul politieke en filosofiese konformisme hul lesers in die steek gelaat het. Die misrabele debat oor “betrokkenheid” wat destyds in die laat 1960s in die tydskriffie Kol begin het, het nie net die naïwiteit van die Afrikaanse hoofstroom onthul nie, dog ook sy afhanklikheid van Engels-Suid-Afrikaanse (en Britse) modelle. Teenoor die ryk, genuanseerde debatte oor sulke kwessies op die vasteland van Europa.

Marlene van Niekerk se Triomf verteenwoordig die nulpunt van betrokkenheid, ‘n soort “arm man se sosiaal-realisme”. Verder as bladsy 127 kon ek nie lees nie, want toe word ek oorval deur ‘n gevoel van verveling en afsku, nie soseer afsku oor die vergesogte wêreld en taalgebruik van die karakters nie, maar ‘n weersin in die werk self en in die soort mentaliteit waaruit dit spruit. Ongelukkig dink ek dit het die sluise van ressentiment in Afrikaans oopgetrek en sedertdien kan die soort dom dekadensie wat as’t ware botvier, op ‘n manier na Triomf teruggevoer word.

In André P. Brink se onlangse Philida word hierdie blik terug in die geskiedenis in geteleskopeer, met die stereotipering en karikaturisering van ou-Kaapse verhoudings tussen meesters en slawe, blanke Afrikaners en bruines.

Ons staan aan die begin van ‘n nuwe millennium; nietemin is die gevoel van fin de siècle vandag in Afrikaans sterker as ooit. Dis asof die Afrikaner se politieke mislukking, sy “oorgawe sonder neerlaag” (Giliomee), insgelyks op ander gebiede manifesteer: dié van kultuur, taal, kuns, teater en, les bes, letterkunde.

Kennelik was Afrikaanse skrywers heel tuis in die klassisisme en die romantiek. Die beteres, soos Karel Schoeman en Dan Sleigh, skryf in Standaardafrikaans maar hou hulle ook naby aan die klassieke vorme.

Haarhoff en Van Rensburg se vertalings uit die Latyn en Grieks verteenwoordig steeds van die grootste bydraes tot ons letterkunde. Die oomblik toe die modernisme ons so ongeveer ná die tweede wêreldoorlog bereik, het ons verval in ‘n tipiese derdewêreldsindroom, Naipaul se “mimiekmense” wat sonder veel begrip naboots, terwyl ressentiment jeens die self en die koloniale meester gedy.

Ressentiment, waaroor Nietzsche so helder geskryf het, is nie beperk tot onvergenoegdheid en naywer jeens ‘n heersersklas, ‘n koloniale owerheid of gewaande verdrukker nie. Bowenal vertaal ressentiment in ‘n selfontevredenheid, skuldgevoelens en ‘n versteurde identiteit. André P. Brink se verbysterende uitspraak in die dokumentêre film, André Brink die Afrikaan, naamlik dat “my mense verdien om te verdwyn” is tipies hiervan.

Al waarvoor ons kan hoop, is dat daar uit die goedkoop liefdesverhale en stories oor vampiere en zombies wat mense deesdae op Amazon.com selfpubliseer, ‘n nuwe Afrikaanse letterkunde mag verrys wat ons ten minste van ressentiment kan bevry.

Vir die ernstige skrywer bly daar ‘n vorm van solipsisme oor, dié van vir jouself te skryf. Nie net kan hy daardeur die soort buite-die-handel-ideaal van suiwer moderniteit bereik nie, maar sodoende dalk ook ‘n nuwe begin pleeg.

александр лобановский харьков