IVP gekant teen ontbinding van Skerpioene

Pogings om twee wetsontwerpe wat die Skerpioene gaan ontbind deur die Nasionale Vergadering te forseer, is 'n duidelike aanduiding van die ANC se misbruik van mag en sy totale verontagsaming van die openbare mening.

Die Inkhata-vryheidspartywoordvoerder, Velapi Ndlovu, sê in 'n land wat deur misdaad geteister word, was die Skerpioene se suksesvolle baanrekord 'n hupstoot vir die stryd teen misdaad wat soms vir die man op straat ongelukkig gelyk het. Deur die Skerpioene as 'n afsonderlike misdaadbestrydingseenheid te ontbind, wys weereens die uiterstes waartoe die ANC sal gaan om sy eie agenda teen die wense van meeste Suid-Afrikaners deur te druk.

Die besluit op die ANC se Polokwane konferensie om die Skerpioene die trekpas te gee, is opgevolg deur parlementere- en openbare deelnemingsprosesse wat uit die staanspoor nooit 'n verskil sou maak aan die ANC se politieke veldtog teen die Nasionale Vervolgingsgesag nie. Ndlovu is daarvan seker dat 90% van die publiek wat voorleggings oor die Skerpioene se toekoms gemaak het, nie met die regerende party se planne saamgestem het nie. Hy sê dit was van die begin af duidelik dat die openbare deelnemingsproses skyn was en dat die ANC alles uitgehaal het om van die Skerpioene ontslae te raak.

Die IVP is teen die wetgewing gekant op grond daarvan dat dit die onafhanklikheid van die Skerpioene vernietig deur 'n nuwe direktoraat binne die SA Polisiediens te skep. Die nuwe eenheid kan aan politieke inmenging onderworpe wees omdat die hoof van die eenheid aan die Nasionale Polisiekommissaris rapporteer.

Ndlovu sê bestaande sake wat deur die Skerpioene ondersoek word, moet ook onder die soeklig kom. Die IVP is besorg daaroor dat hoë-profiel- of sogenaamde sensitiewe sake in die slag gaan bly. Die party doen 'n beroep op die minister van veiligheid en sekuriteit om die publiek te verseker dat dit nie sal gebeur nie en dat dié sake dringend opgelos sal word.    

туры в хорватию из калининградаФильчаков Харьков