As manne sag vat

In hierdie geëmansipeerde tye waarin ons leef, is daar steeds van ons soort oor.  Dis nou die vroue wat graag so 'n treetjie agter hul mans wil loop.  Nie omdat hulle ondergeskik voel nie, maar omdat hulle die veiligheid van 'n leier wat die pad verken en die welvaart van sy volgeling op die hart dra, verkies.

Die Bybel, wat die man as die hoof van die huis uitwys, het steeds vir my ‘n groot krag en waarheid.  Ek glo nie aan die onderdrukking van die vrou nie, glad nie!  Mans wat hul vroue woordeliks of liggaamlik skade berokken het tot die laagste van laagtepunte gedaal. 'n Man wat sy vroulike metgesel met deernis behandel, maak my vrouehart week en verkry onmiddellik my hoogste agting.

Vir my is daar egter troos in die woorde: "Kom ons hoor wat sê Pa."  Dit beteken geensins dat ek nie 'n eie opinie oor die saak kan vorm nie, maar die laaste beslissing is meestal by Pa – wat ook die verantwoordelikheid van die besluit neem.  

Dit laat my veilig en beskut voel.  Sy liefde en besorgdheid is ons hawe.  Maak dit sin? Vir my, ja. In hierdie wêreld wat so onseker is, is dit die enigste ding wat nog seker kan voel.  Elke groep het tog 'n leier, so is die gesin ook 'n besonderse groepie en moet dit ook 'n leier hê.

Dit is nog vir my lekker as my man my hand vat as ons oor die straat stap.  As hy my help met 'n swaar pakkie of al sy krag gebruik om ‘n skroefbottel oop te draai.  Dit is vir my wonderlik as hy oor my besorgd lyk as ek moeg is en die werk uit my hande neem. Dames, wees nou eenmaal eerlik, ons is liggaamlik tog die swakker weergawe!  Die meeste van ons wil volkome vrou voel en so behandel word.  'n Onbekende skrywer sê die volgende: '”n Dame is iemand wat 'n man soos 'n ware heer laat optree.” (Vry vertaal.)

Daar is plek vir sterk vroue in ons wêreld. Vroue wat die sakewêreld betree kan dieselfde skuiwe as haar manlike eweknie maak, sy kan dieselfde ure insit en sy moet ook dieselfde vergoedingspakket kry, maar die verskil is dat sy vanaand by die huis moet kom en die bestuur van  'n huishouding met Pappa moet deel en hom toelaat om haar te vertroetel en die verantwoordelikheid te neem  om die gesin kerngesond te hou.

Daar is vroue wat nêrens manlike gesag duld nie. Hulle betoog, skryf versoekskrifte en hou konferensies oor vroueregte. Hulle ken nie die geheime wapen van vroue, dat  deur swak voor te kom, hulle eintlik die wêreld kan regeer nie.

Om dan totaal geëmansipeerd te wees, is goed vir die vrou wat dit voorstaan, maar in die proses moet hulle bereid wees om sekere voorregte in te boet en bederf af te staan.  "As jy veg soos 'n man, moet jy bloei soos ‘n man."  Die sagte vat van die manne is vir die sagtes onder die vroue; oftewel vir diegene wat bereid is om dit te wíl wees.

из италииОлександр Фільчаков прокурор

Agter elke man, staan ‘n ingeligte vrou

“Kate Hudson en haar man gaan dalk skei,” roep ek van voor die televisie vir manlief wat voor sy rekenaar sit. “Goed so, haar man is maar 'n snaakse karakter, deurmekaar met dwelms en hy lyk nie te goed nie!” roep hy terug. Ek is verbaas. “Wow, jy weet baie van die tweetjies,” sê ek en skud my kop in ongeloof. Ek het gehoop hy weet wie Kate Hudson is – na ek al herhaaldelik haar naam genoem het terwyl ons na iets oor haar kyk – maar sulke onmiddellike herkenning en stortvloed van inligting is raar.

Miskien moet ek 'n raps meer agtergrond oor manlief gee. Sy belangstellings in rolprente en aktrises is skraps. Hy slaap dwarsdeur tagtig persent van die flieks wat ons kyk en as hy wakker bly tot aan die einde is dit 'n teken dat die fliek aan te beveel is! Byna daagliks moet ek verduidelik wie  Tom Cruise en wie Brad Pitt is, hy verwar kronies die twee. Hy ken slegs 'n paar sterre op die naam, omtrent net Nicole Kidman (sy is vir hom baie mooi, maar nou te maer) en Jessica Simpson (al is sy dalk nie so slim nie, dink hy sy is oulik). O ja, en hy ken vir Paris Hilton as gevolg van haar oor-blootstelling deur die media. Nou, op die Saterdagoggend weet hy dadelik van wie ek praat as ek Kate Hudson se naam noem. Ongelooflik!

Die Sondag kuier ons by vriende en ek vertel hoe ingelig hy is. “Wie is die vrou?” vra buurman. “Sy is 'n blonde model met 'n man wat met dwelms deurmekaar  is,” sê manlief dadelik. So kom ons toe agter hy is eintlik besig met Kate Moss, die model, en is toe glad nie so ingelig nie!  Na ons breedvoerig verduidelik het, sê hy: “Ag, miskien geld dieselfde kommentaar vir hulle ook: Hollywood is Hollywood, almal is op dwelms!”

Die kennis van watter rolprente ons al gesien het en wat goed sal wees om te sien, moet ek altyd onthou. Sy gunstelingakteurs moet ek menigmaal uitwys. “Onthou jy,” sal ek sê, “dit is die ou wat in 'Beautiful minds' gespeel het.” En dan gaan daar gewoonlik darem 'n lig op. Ek is ook die een wat  die name van die flieks wat vir hom goed was, onthou. My wederhelf is nou maar eenmaal nie op die rolprentbedryf ingestel nie. Hy gee net te min om, om sy kosbare geheue daaraan te wy. Hy lees liewer graag 'n boek en kyk dokumentêre films oor dinge wat saak maak. As hy dan ook die dag positief oor 'n rolprent voel, is dit gewoonlik gebaseer op ware gebeure.

Van wêreldsake weet manlief meer as ek. Die ekonomie maak vir hom definitief meer sin. In 'n gesprek oor oorlogvoering, rugby en krieket is hy altyd die fundi. Hy weet van pype, motors en huisplanne, maar iewers in die spektrum van alle kennis het ek ook 'n plekkie om te vul – agter sy blad staan ek stewig en kry my eie toekenning vir ingeligtheid, al is dit nou net vir 'n paar oomblikke se vermaak. Die vrou agter mý wederhelf is beslis 'n ingeligte fliekvlooi!

санкт-петербургФільчаков Олександр Васильович прокурор

Alles gaan oor gereedskap

ImageMy pa het my 'n belangrike waarheid geleer: Enigiets is maklik as jou gereedskap reg is.

Enigiemand wat al probeer het om 'n naat met 'n naald of speld los te trek, as hulle van beter weet en 'n lostrekker gewoond is, weet hoe waar hierdie stelling is.

Om 'n moeilike materiaal met 'n stomp skêr te probeer knip, kan senutergend wees. Lê 'n patroon uit met net 'n paar spelde of werk 'n soom in met 'n veels te groot naald. Nee, mens se gereedskap moet reg wees.

Die waarheid is nie net waar as jy 'n naaldwerkster is nie. Probeer kook sonder die regte maatkoppies, lepels en  bakke. Resepte waar gesif word sonder sif. 'n Mengsel wat geklop word sonder spaan en probeer eiehandig 'n elektriese klitser se werk verrig. Nee, 'n mens se gereedskap moet reg wees, stem jy dan dadelik saam.

Verwers moet die regte kwasse, skrapers en verwe hê. Die tuinier benodig sy graaf, sy vurk en sy kruiwa. Die nutsman is nutteloos sonder sy boor, sy hamer en saag. Ure se gesukkel kan in minute verby wees met daardie een stukkie gereedskap wat die ding kan doen.

Wat my pa in sy wysheid egter nie gesê het nie, is dat gereedskap sonder kennis nutteloos is en dat daar mense is wie se handigheid enige gereedskap oorskadu. So sal ek my hande saamslaan oor die nuttigheid van sommige gebruiksartikels in die hande van 'n regte nutsman. Dit laat my altyd met die gevoel: Hoekom het ek so min inisiatief?

'n Vriendin met 'n prentjiemooi huis en tuin, kleur tot haar eie verf om dit  te kry soos sy dit wil hê.  Sy het die waagmoed om selfs 'n bietjie koffie by haar verf te gooi met  skitterende resultate. Ek kyk wat sy vermag en weet dat ek  inderdaad iets in my sisteem kort, 'n besonderse stuk gereedskap waarmee ek myself tot 'n wen-idee moes motiveer.  Die Afrikaanse Tesourus van L.G. de Stadler noem 'n rits woorde wat met moed, durf of fut te make het: koenheid, dapperheidm, braafheid, onversaagdheid, ridderlikheid, vreesloosheid, overskrokkenheid, wagmoed, koerasie, kordaatheid, kloemoedigheid, stoutmoedigheid, daadkrag, sangfroid, pit, dryfkrag, ens. Dit klink soos karaktertrekke van 'n Voortrekkerleier, maar in hierdie moderne tyd kort ek ook 'n handvol daarvan.

Dan is daar die derde groot, onweerlegbare waarheid: al die gereedskap ter wêreld en al die waagmoed in die heelal, bring jou nêrens sonder harde kontant nie! Die dekorboeke wat in groot letters uitspel: “Doen dit met wat jy het,” leef nie saam met dié waarheid nie. Hulle spin om jou 'n ragfyn kokon van: “Sê nou maar dit was moontlik”, want op die ou einde moet jy betaal of tot verhaal kom!

So sit ek in my sitkamer en bekyk my mure: sê nou ons verf die mure 'n pampoenoranje? Sê nou maar ek het die kontant om te koop wat ek moet en iemand te kry om die verfwerk noukeurig te doen, sou die mense van my ook sê: “Sy het fut, durf en waagmoed. Sy is koel en sjiek en inpas! Haar huis is so oe-la-la en sjiek-boheems.  Of sal hulle bloot vra: “Wat het skeefgeloop?”

погремушкиАлександр Фильчаков прокурор