Weereens doen die regering net lippediens aan die beginsels van menseregte. Op papier is ‘n lewe in beginsel baie werd, maar in die praktyk word mense se lewens, veral wat die staat se gesondheidsektor betref, gereduseer tot ‘n nommer wat geprosesseer word binne ‘n ongeduldige stelsel wat in baie gevalle sonder empatie, befondsing, opleiding en kapasiteit funksioneer. Dit is die arm mense se slagpale en veral die ouer geslag se poort na die dood. Dit is die werklikheid van die hospitale in Johannesburg.
Adv. Alberts vermeld in die lig hiervan die geval van me. Antoinette Hattingh, ‘n moeder van twee tieners, wat verlede week afgesterf het weens blatante nalatigheid toeskryfbaar aan die gebrekkige behandeling wat sy by ‘n Johannesburgse hospitaal ontvang het. Me. Hattingh het ‘n wond in haar voet gehad waarvoor sy na die betrokke hospitaal gegaan het vir behandeling. Weens vertraagde behandeling het die wond omgesit in gangreen. Op hierdie stadium kon die gangreen se verspreiding steeds gekeer word, maar die verpleegsters het geweier om die wond te behandel omdat dit volgens hulle “te veel gestink het”. Die gevolg was dat die siekte versprei het en me. Hattingh se been moes ten einde laaste afgesit word! Die medikasie wat na die operasie aan haar voorgeskryf is, het nie met haar geakkordeer nie en me. Hattingh se ellendes het net vermeerder. Verlede week na ‘n skielike koma, het me. Hattingh tragies gesterf. Dit is destemeer tragies indien mens in ag neem dat me. Hattingh se dood vermy kon gewees het. Sy is ook ongelukkig net een van vele mense wat deur die publieke gesondheid-sorgstelsel in die steek gelaat is.
Die VF Plus gaan hierdie saak verder ondersoek en die nodige stappe neem om die hospitaal-owerhede en departement van Gesondheid tot verantwoording te roep aangaande die toestande in hospitale. Formele regstappe is ook nie uitgesluit nie. Hierdie situasie moet nou omgedraai word of dit sal binnekort nie meer sin maak vir mense om staatshospitale te gebruik nie. Die algemene wysheid onder die arm gemeenskappe is dat dit beter is om siek by die huis te wees as om na ‘n staatshospitaal te gaan vir behandeling. Was dit nie die toestand tydens die donker Middeleeue waarin ons onsself nou weereens bevind nie?
Adv. Alberts het verder verklaar dat as die ANC-regering selftevrede kan voel dat sy eie burgers sulke swak behandeling kry, is dit ook goed te verstane dat hulle die morele atmosfeer geskep het vir die xenofobiese aanvalle op immigrante die afgelope tyd. Geen lewe het enige waarde nie, of die persoon ‘n Suid-Afrikaner of immigrant is.
Adv. Alberts het ook sy visier op die sogenaamde amptelike opposisie gerig. Die DA se amptelike woordvoerder oor gesondheid, mnr. Jack Bloom, publiseer deesdae gereeld klein niksseggende briefies in koerante oor die swak toestand van die hospitale in Suid-Afrika. Die DA, wat groot gewag maak oor die feit dat hulle die regering aanvat en beter dienslewering verseker, het egter geen program van aksie om hospitale te verbeter nie en skep ‘n mitologiese beeld van ‘n sterk party wat eintlik net op “grandstanding” neerkom. Boonop het die DA-raadslid in die wyk waar me. Hattingh woonagtig was, dit duidelik in die publiek gestel dat sy nie belangstel in die arm mense se lot nie. ‘n Party wat net briefies na die pers stuur, verdien nie die vertroue van die burgers van Suid-Afrika nie.
“Dis nie net tyd om die ANC uit te stem nie, maar dis duidelik dat ‘n nuwe opposisie nodig is wat empatie met mense van alle vlakke van die samelewing kan betoon, ‘n opposisie wat beide individue en gemeenskappe se lot verstaan en help verbeter”, het adv. Alberts beaam. Die slagoffers van hierdie gebroke en bose stelsel, soos me. Antoinette Hattingh, moet ‘n rigtingwyser word vir ‘n beter lewe sodat hulle afsterwe betekenis sal hê.
