Perfect China, wat ’n belang van 51% in Perfect Wines of South Africa besit, het pas die Val de Vie-wynlandgoed tussen die Paarl en Franschhoek, gekoop.
Dit is die eerste Chinese belegging in die plaaslike wynbedryf. Dit sluit die wynplaas van 25 ha en die historiese herehuis in en is bekend vir sy Rhône-styl wyne
Hein Koegelenberg, voorsitter van Perfect Wines of South Africa en uitvoerende hoof van die wynlandgoedere La Motte en Leopard’s Leap, wou nie die koopbedrag bekendmaak nie.
’n Groter, baie duur vatverouderingskelder word in die vooruitsig gestel, en die herehuis, wat van 1783 dateer, sal in ’n Hugenote-museum omgeskep word.
Perfect Wines of South Africa voer sedert 2011 wyne uit na China.
Koegelenberg sê L’Huguenot, die wynhandelsnaam wat spesiaal vir die Chinese mark geskep is, is verantwoordelik vir byna 50% van die totale Suid-Afrikaanse wynuitvoer na China.
Perfect China versprei L’Huguenot in die Verre Ooste sowel as in Maleisië, Thailand, Hongkong, Indonesië, Singapoer, Taiwan en Viëtnam as deel van die strategie om Suid-Afrikaanse wyntoerisme in China te bemark.
Koegelenberg se span het aanvanklik op eie koste Franschhoek se toerismegids in Mandaryns vertaal en 60 000 eksemplare in China versprei.
