Die Times of Zambia berig dat ‘n Malawiër sy liggaamsdele geoffer het nadat ‘n tradisionele geneser oftewel toordokter gesê het dit sal hom help om ryk te word.
“Ek het bos toe gegaan waar ek beveel is om kaal te loop en toe kom ‘n hiëna na my toe en begin my tone eet en uiteindelik is my geslag ook geëet.” Só word Chamangeni Zulu, wat in sy twintigerjare is, deur die koerant aangehaal.
Intussen is hy vanuit die Chipata-algemene hospital ontslaan, volgens ‘n senior verpleegster in die Zambiese grensdorp.
“Hy is Maandag ontslaan nadat sy familielede gevra het dat hy na Muchinji in Malawi oorgeplaas word,” sê Suster Precious Matongo, verwysende na ‘n dorp net oorkant die grens.
“Hulle behoort sy wonde skoon te hou, maar hy is stabiel,” voeg sy by.
Vele Malawiërs steek glo die grens tussen die twee Afrikalande oor om op Zambië se kommersiële tabakplase te werk.
