UV-navorser wil misdaad met Sielkunde bekamp

Prof Louw
Prof Louw

‘n Vooraanstaande forensiese sielkundige aan die Universiteit van die Vrystaat gaan poog om deur navorsing die hoë misdaadsyfers in Suid-Afrika te laat tuimel.

Professor Dap Louw, hoof van die Sentrum vir Sielkunde en die Reg in die Departement Sielkunde, het gesê daar is nog weinig navorsing gedoen om vas te stel wat die psigologiese redes vir die tussen 60% en 80% heroortredings onder gevangenes is.

Hy gaan ‘n navorsingsprogram van stapel stuur wat fokus op psigopate – ‘n uiters selektiewe groep veroordeelde misdadigers wat beskou word as die gevaarlikste misdadigers, omdat hulle ‘n laer vlak van empatie, verantwoordelikheid of gewete het en oor ‘n geneigdheid beskik om sosiale norme te oortree.

Navorsing onder sowat 500 van die gevangenes by die Mangaung Korrektiewe Sentrum het reeds begin.

Louw het gesê die navorsingsinligting kan ook aan paroolrade verskaf word, wat dan meer ingeligte besluite oor parool sal kan maak.  – OFM