Buitelanders wat dit waag om terug te keer na De Doorns, sal “gebraai” word.
Twee maande sedert xenofobiese aanvalle in De Doorns uitgebreek het, sê plaaslike inwoners hulle is vasberade om enige Zimbabwiërs wat terugkeer weer weg te jaag.
Die inwoners van Stofland en Ekuphumleni sê hulle weier om enige Zimbabwiërs tot dié woonbuurte te laat terugkeer.
“Ons sal hulle braai en KFC van hulle maak as hulle terugkeer. Daar is geen plek vir hulle hier nie,” het Pastoor Frans Henke ná Sondag se preekdiens gesê.
Inwoners van Stofland en Ekuphumleni het aan die Cape Argus gesê hulle bedryf heksery en bied hulleself as goedkoop arbeid aan wat aanleiding gee tot werkloosheid onder die plaaslike inwoners.
“Hulle is van ‘n ander kultuur, wat van ons verskil,” meen Henke.
Ten minste 2 000 mense is uit hulle wonings verdryf en woon tans in tentkampe. Hulle het geen idee wat die owerhede beoog om volgende te doen nie.
