Die Seriti-kommissie van Ondersoek wat aangestel is om die regering se omstrede wapenaankope te ondersoek, sal vandag meer hoor oor die proses wat gelei het tot die besluit om die Suid-Afrikaanse Lugmag se Grippen-vegvliegtuie en Hawk-vegopleidingsvliegtuie aan te koop.
Brigadier-generaal John Bayne sal oor die Lugmag se verouderde vloot vliegtuie getuig en die debatte wat plaasgevind het oor die vervanging daarvan.
Bayne, wat die Direkteur van Gevegstelsels by die Lugmag is, sal ook getuig oor waarom vegvliegtuie aangekoop is in die huidige vreedsame politieke bestel en oor die aanwending van die vliegtuie.
Die Seriti kommissie is deur President Jacob Zuma aangestel om bewerings van bedrog, korrupsie en ongerymdhede in die sogenaamde wapenaankooptransaksie te ondersoek. – RSG
