Binnekort dalk goedkoop mediese skemas vir lae-inkomstewerkers

Die Raad op Mediese Fondse mag mediese skemas toelaat om produkte vir die lae-inkomstemark te loods, is gister by ‘n konferensie van die Gesondheidsorgbefondsers bekendgemaak. Maar sulke skemas sal nie voorsiening vir opname in privaathospitale of versorging in noodgevalle maak nie.

Sulke goedkoop mediese skemas, wat so min as R200 per maand per persoon mag kos, sal slegs drie jaarlikse besoeke aan ‘n algemene praktisyn, basiese tandheelkunde en oogkunde, asook eenvoudige patologie en radiologie, insluit. Dit is van die voorstelle wat mediese skemas en administrateurs aan die Raad op Mediese Fondse voorgelê het.

Tans word slegs 8,7 miljoen mense deur mediese fondse gedek, met ongeveer 6 miljoen mense wat in formele diens verkeer wat nie die hoë fooie kan bekostig nie. Indien die nuwe voorstelle goedgekeur word, sou dit die aantale lede van mediese fondse tot 15 miljoen laat styg. Die Raad het 12 sulke voorstelle van mediese fondse ontvang, wat tans oorweeg word.

Volgens die hoof van Universal Health, Johan Pretorius, kos dit tans R600 per maand per persoon om die minimum voordele wat deur die wet voorgeskryf word, aan ‘n mediesefondslid te verskaf. Daarom sal die mediese fondse kwytskelding van die raad moet ontvang om die goedkoper produkte te kan verskaf.