‘n Minister en ander politici in Italië het gister die uitslag van ‘n Switserse referendum ten gunste van ‘n verbod op die konstruksie van nuwe minarette verwelkom en dit ‘n les in demokrasie genoem.
“Switserland stuur daarmee vir ons ‘n helder sein: Ja vir kloktorings, nee vir minarette,” het Roberto Calderoli, die minister van administratiewe vereenvoudiging en ‘n lid van die anti-immigrant Noordelike Liga-party gesê.
“Wat uit die keuse van die Switserse mense se keuse blyk te vloei, is respek vir die vryheid van godsdiens aan die een kant en die behoefte om die politieke en propaganda-aspekte verbonde aan Islam te vertraag aan die ander kant.”
Die referendumuitslag “moet ons weer laat dink,” sê Calderoli.
Riccardo De Corato, ‘n wetgewer van Eerste Minister Silvio Berlusconi se Mense van Vryheidparty, en die onderburgemeester van Milaan, het die referendum gebruik om die linkse vleuel in sy eie land te kritiseer.
“‘n Baie demokratiese Switserland het Italië vandag ‘n les geleer, veral aan linksgesinde militantes wat versperrings sou opgerig en ‘skande’ geskree het indien dié soort inisiatief in Italië plaastevind het,” sê hy.
Nog ‘n Noordelike Liga-politikus, ‘n adjunk in die Europese Parlement, het die stemmery “‘n grootse les in demokrasie van Switserland” genoem. “Ongelukkig konsulteer ons nie die mense in Italië om uit te vind wat hulle van moskees en Islamitiese sentra dink nie,” het Matteo Salvini gesê.
Giancarlo Galan, die president van die noordelike Veneto-streek wat Venesië insluit, sê hy is in sy noppies met die uitslag van die referendum en hy “sou honderdmaal nee (vir minarette) gestem het.”
Sowat 57,5 persent van die Switserse kiesers het gekies om die konstruksie van nuwe minarette te verbied.
