
Die werkersvakbond NUMSA beskuldig die ANC daarvan dat hy nie swart werkers as mense erken nie. Die vakbond se hoofsekretaris Irvin Jim het Sondag die Joe Slovo-gedenklesing in Queenstown, in die Oos-Kaap gelewer.
Jim sê die regerende party verwag van die land se arm mense om nederig en nie-gewelddadig te wees nie, ten spyte daarvan dat hulle wat hy noem, klein en afbrekende lone uit die koloniale era kry.
“As gevolg van die voortgesette lae en gewelddadige koloniale loon van die swart werkersklas, kan ons geweldadige en militante stakings elke dag sien,” het hy gesê.
Jim sê as dit nie spoedig deur die ANC aangespreek word nie, sal die gewelddadige en militante oproer toeneem.
“Ons base en die ANC-regering wil hê ons moet oorleef op lae, wrede en gewelddadige koloniale lone en intussen moet ons nederig, vriendelik wees, nie-gewelddadig en maklik om te manipuleer en hanteer tydens stakings.“
Hy het verder gesê: “Beide wit monopolie-kapitaal en ons ANC-regering dink op een of ander manier die swart werkersklas moet tevrede wees met ons minderwaardig koloniale lone en minderwaardige onmenslike sosiale omstandighede.” – salabournews.co.za
