Geweld oor dienslewering duur voort

Geweld oor dienslewering teister Suid-Afrika steeds. Ontevrede inwoners het in twee plekke weereens in opstand gekom teen swak dienslewering.

In Tokoza, aan die Oos-Rand, het inwoners Dinsdag polisievoertuie onder die klippe gesteek en vullis rondgestrooi. Die polisie moes van rubberkoeëls gebruik maak om hulle uiteen te jaag.

’n Groep van 200 inwoners van die Tokoza-hostel het vroegoggend na die munisipale kantore opgeruk. Hulle het gewelddadig begin raak omdat die kantore gesluit was.

“Die mense is van dié kantore terug na hul hostel waar hulle die polisie met klippe aangeval het. Ons beamptes moes rubberkoeëls skiet om die groep uitmekaar te dryf,” het kapt. Godfrey Maditsi, polisiewoordvoerder, gesê.

Volgens Sapa het die situasie ná die skietery kalm geraak en teen laat gistermiddag was alles terug na normaal.

Die inwoners is ontstoke oor huise, toilette en kragtoevoer wat hulle beloof is en nie gelewer is nie.

Volgens Maditsi is niemand beseer nie en niemand ook in hegtenis geneem nie. Hy sê die polisie sal egter die gebied bly patrolleer.

Die betoging volg op dié van verlede week waar drie mense beseer is toe die polisie met rubberkoeëls op sowat 400 betogers losgebrand het.

In Mpumalanga, in die Simile-lokasie naby Sabie, het sowat 500 inwoners Dinsdag amok gemaak. Hulle het 'n biblioteek en munisipale voertuie aan die brand gesteek. 'n Polisieman is in die geweld beseer.

Twee munisipale trekkers, 'n brandweerwa, 'n bakkie en 'n trok is uitgebrand volgens superintendent Abie Khoabane.

Die polisie moes ook van rubberkoeëls gebruik maak. Inwoners is woedend omdat hulle griewe, wat twee weke gelede by die munisipale kantore oorhandig is, nog nie aandag van die owerhede geniet het nie.

материал длялобановский харьков класс