‘n Groot vrag gemengde plutoniumoksied (MOX) sou na verwagting Saterdag verby die Kaap van Goeie Hoop vervoer word, het Greenpeace Africa in ‘n verklaring gesê.
"MOX-vragte is net nie die moeite werd nie, hulle is ‘n groot terreurteiken en ‘n groot risiko vir die omgewing van al die lande onderweg,” het Rianna Teule, kernveldtogleier van Greenpeace Internationaal Saterdag in ‘n verklaring gesê.
Die skepe Pacific Pintail en Pacific Heron was beide swaar bewapen en beskerm deur spesiaal opgeleide Britse magte, het die verklaring gelui.
Hulle moet Suid-Afrikaanse waters binnegaan onderweg van Frankryk na Japan.
Die vrag wat Chebourghawe verlaat het is omtrent 1,8ton MOX – genoeg om 225 kernwapens mee te vervaardig – en sal om die Kaap van Goeie Hoop vervoer word.
“Die MOX-vervoer skep onmiddellike besmetting en sekuriteitsrisiko’s, en is net nog ‘n voorbeeld van die gevare van kernenergie…nie net is die verskeping onnodig en gevaarlik nie, maar daar is ook geen getuienis dat die houers wat die kernbrandstof bevat veilig is teen ongelukke nie,” het Teule gesê.
MOX is ‘n alternatiewe kernbrandstof wat opgemaak word uit ‘n mengsel van uraan en plutonium.
