Werkers by die Gautengse lisensiekantore het begin met 'n week lange onwettige staking, het die departement van vervoer Dinsdag gesê.
Dit is te midde van aantygings dat sekere werkers in diens geneem is sonder dat die regte prosedures gevolg is, het Alfred Nhlapo, die woordvoerder van die departement gesê.
"Ons het dit duidelik gemaak dat daar 'n beleid van deursigtigheid in plek is. Tot op hierdie stadium is daar geen getuienis gelewer om die bewerings te staaf nie," het hy gesê.
Subusiso Buthelezi, die hoof van die departement, het alle stakende werknemers by die Batho Pele-gebou in die Johannesburgse SBD beveel om aan te meld vir werk of ontslaan te word.
Die staking raak duisende tydelike permitte van langafstandtaxi-operateurs, het hy gesê.
"Ons kan nie bekostig om 'n disfunksionele departement te hê nie. Die nie-prosessering van lisensies vir taxi's sal lei tot dispute en konflik tussen die verskeie verenigings regoor die provinsie."
Buthelezi het gesê dat stakende werkers tot Donderdagmiddag het om by die werk aan te meld.
