
Ahmed Kathrada, een van die veterane van die stryd teen apartheid en ’n medegevangene van oudpres. Nelson Mandela, het Sondag op Robbeneiland ’n verklaring onderteken wat pleit dat ’n prominente Palestynse politieke gevangene vrygelaat word.
Dit was tydens die amptelike loodsing van die Free Marwan Barghouthi-veldtog.
Barghouthi is sedert 2002 in ’n tronk in Israel nadat hy vyf keer tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir sy rol in die Palestynse vryheidstryd.
Die verklaring sal wêreldwyd versprei word voordat dit aan die regering van Israel oorhandig word. Daar word ook vir die vrylating van alle Palestynse politieke gevangenes gepleit.
Aartsbiskop-emeritus Desmond Tutu het ook Sondag in ’n verklaring steun toegesê aan die veldtog.
“Ek wens mnr. Ahmed Kathrada, wat 27 jaar van sy lewe as ’n politieke gevangene deurgebring het, daarmee geluk dat hy dié inisiatief persoonlik lei.
Tutu sê hy kan nie aan ’n beter plek as Robbeneiland dink vir die bekendstelling van die veldtog nie. Hy sê Suid-Afrikaners het ervaring van die mag van solidariteit, en hy is trots dat dit, onder Kathrada se leiding, tot voordeel van ander ingespan word.
“Suid-Afrika sou nie sy demokrasie kon bereik sonder die bydrae van vriende wêreldwyd nie,” het Tutu gesê. – Sapa
