Leon Lemmer: Richard van der Ross oor die politieke geskiedenis van die bruin mense

Richard van der Ross (gebore in 1921) is een van min ontwikkelde bruin mense wat aanvaar dat hy nie wit of swart is nie. Hy erken openlik dat hy ‘n ander kleur of etnisiteit het. “I am coloured, and I will say it and sing it and talk it … I cannot be anything else” (Weekend Argus, 16 deser). Sy lewensloop word gekenmerk deur sy pogings om die herkoms en aard van bruin mense na te vors en te bepaal in hoeverre daar gronde vir groepsidentiteit is. Hy het hom nooit van sy eie mense gedistansieer nie en deurgaans gepoog om hulle belange te bevorder.

Van der Ross se jongste boek is, In our own skins: a political history of the coloured people (Jeppestown: Jonathan Ball Publishers, 2015, 216p, R210; ook as e-boek beskikbaar, bv Amazon Kindle $18.23). Ek vind dit ironies dat Franklin Sonn (gebore in 1939) die voorwoord (met neffens ‘n foto van homself) geskryf het. Vir hom is die bonus ‘n bietjie publisiteit. Sonn is iemand wat sy bruinskap in minstens twee opsigte ontken: hy wil swart en Engelssprekend wees en het sy kinders ook so opgevoed. Hy noem “the Coloured people … a segment of black South Africans” (p 3). Geen wonder dat hy die volgende beklemtoon nie:

“The Coloured people on their own constitute neither a nation nor a race. They are, however, a group with a distinct socioeconomic experience and a history of resistance to racism and efforts by colonialists and the post-colonial government to afford them a political status. The resistance to colour oppression also entailed a conscious non-acceptance of self-consciousness, inferiority and being given a separate political status as Coloured people” (p 1).

Dit is duidelik dat Sonn as ANC-kameraad hier aan die woord is. Dit is ‘n growwe veralgemening in soverre geïnsinueer word dat bruines nie werklik ‘n onderskeibare groep is of wil wees nie. ‘n Mens moet onderskei tussen die ontwikkelde en minder ontwikkelde bruines. Tydens die blanke bewind wou die bruines (veral die ontwikkeldes) graag wit gewees het. In die huidige politieke bedeling wil die ontwikkelde bruines ter selfbevoordeling graag amptelik swart wees. Tog vestig hulle hulle by voorkeur in tradisioneel blanke en dalk veral Afrikaner-woongebiede; sekerlik nie swart woongebiede nie. Sonn is self ‘n toonbeeld hiervan. Onder die minder ontwikkelde bruines is dit opvallend dat hulle eerder aansluiting by blankes soek en sterk weerstand bied teen en gerief is oor swartes wat hulle woongebiede en skole binnedring.

Pat Sonn, Franklin se pa, het in die openbaar ‘n polities gematigde indruk gewek. Daarom het die “apartheidsregime” hom in bv die raad van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) aangestel. Franklin het, wat formele akademiese kwalifikasies betref, nooit verder as ‘n UWK-honneursgraad gevorder nie. Die blanke regering het blykbaar gedink dat Franklin polities so gematig soos sy pa sou wees. Ten spyte van sy beskeie formele kwalifikasies en ingevolge die apartheidsbeleid-ideaal dat iedere bevolksgroep deur sy eie mense gedien moet word, is hy as rektor van die Skiereilandse Technikon in Bellville-Suid (1978-1994) aangestel. Reeds in 1976, die jaar van die Soweto-opstand, het hy as skoolhoof president van die Cape Teachers’ Professional Association (CTPA) geword en hierdie pos tot 1990 beklee.

In sy voorwoord verwys Sonn twee keer na hierdie onderwysersvereniging (p 2, 3) wat, ten spyte van sy naam, juis in onprofessionaliteit uitgemunt het. “The teachers had been educating their pupils in a very definite political direction. This, naturally, reflected their own political beliefs” (p 138). Die CTPA wou niks met die “apartheidsregime” te make hê nie, maar soos Van der Ross van ‘n ander vereniging skryf: “Their teacher-members continued to teach and draw their salaries from the government” (p 121). Via hierdie vereniging het Sonn moontlik in groter mate as enigiemand anders onrus in veral die Wes-Kaapse skole vir bruines gestook. Hy skryf: “Teachers’ associations became the voice of Coloured political expression” (p 2).

Iemand wat chaos ten behoewe van die UDF/ANC gesaai het, kan op vergoeding, bv ‘n pos met hoër louere, aanspraak maak. Toe ek in 1994 ‘n konferensie by die Skiereilandse Technikon bygewoon het, was Sonn nie daar om dit te open nie. Een van sy viserektore, ‘n blanke man met ‘n doktorsgraad, het dit namens Sonn gedoen. Sonn was in Pretoria in afwagting op Nelson Mandela se aankondiging van sy eerste kabinet. Sonn het die ydele hoop gekoester dat hy as onderwysminister aangestel sou word. Pleks daarvan het hy die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika geword (1995-1999). Die meetsnoere het vir hom in lieflike plekke geval; eers bevoordeling danksy die “apartheidsregime” se beleid en daarna bevoordeling ingevolge die ANC se gebruik om onrusstokers (en erger) ruim te vergoed.

In Washington het Sonn hom (heeltemal uit sy diepte) onderskei deur die skilderye van blanke kunstenaars uit die ambassade te verwyder en hulle op die koste van die belastingbetalers met dié van nie-wit skilders te vervang. Terug in Suid-Afrika het Sonn los werkies vir die ANC gedoen. Hy was bv (nogeens heeltemal uit sy diepte) voorsitter van die komitee wat ‘n buitensporige vergoedingspakket vir die SA president aanbeveel het. Dit is ook hy wat suksesvol vertoë tot die president gerig het om Allan Boesak tot nie-misdadiger te verklaar. Sonn verwys goedkeurend na Boesak (p 2).

Maar ek wil eintlik oor Van der Ross se jongste teks skryf. Van der Ross het algemene bekendheid verwerf toe hy van 1975 tot 1986 die UWK-rektor was. Die “apartheidsregime” het vertroue in hom gestel en hy het in die geheel beskou as rektor akademies nie teleurgestel nie; onder meer omdat hy reeds in 1952 ‘n doktorsgraad aan die Universiteit Kaapstad verwerf het. Op die UWK-kampus is hy in studentegeledere as ‘n uitverkoopte uitgekryt. In werklikheid was sy bewind die laaste in die UWK se akademiese era, met agtereenvolgens, van 1960 af, JG (Gans) Meiring, N Sieberhagen en Wynand Mouton (1974) as rektor. Van der Ross se opvolger, Jakes Gerwel, het die UWK se politieke era ingelui. Die akademie is ondergeskik aan linkse politiek gestel.

Hieruit moet nie afgelei word dat Van der Ross as rektor nooit polities rammetjie-uitnek was nie. Hy het bv by geleentheid saam met ANC-kornuite, soos Gerwel en Jaap Durand, ‘n protesoptog op die UWK-kampus gelei. Hy was immers een van die stigterslede van die anti-apartheid-Arbeidersparty in 1969 (p 152) wat in die Verteenwoordigende Kleurlingraad sitting gehad het. Hierdie Arbeidersparty het in 1984 uiteindelik verplig gevoel om skoorvoetend selfs deel van die Driekamerparlement te word (p 163). Allan Hendrickse, die partyleier, het gesê: “It was time for the Coloured people to stop playing Boer se moer politics” (p 167). Dit herinner aan Lyndon Johnson (Amerikaanse president, 1963-1969) se beginsel van “preferring your enemy inside the tent pissing out than outside the tent pissing in” (Jordan & Walsh, bron hier onder, Kindle 1179).

In sy vorige boeke, bv sy outobiografie en sy monografie oor slawerny, het Van der Ross hom as outeur goed van sy taak gekwyt. Sy jongste boek is in hierdie opsig ‘n teleurstelling. Daar is heelwat onnodige herhaling en gebrekkige sistematisering. Hy is te oud om so ‘n moeilike taak werklik goed uit te voer. Die latere hoofstukke is egter beter en interessanter en verskaf nuwe inligting. Wanneer ‘n Afrikaner soos ek die boek lees, is daar die bewustheid dat sy helde nie my helde is nie. Ek mis ook openlike waardering vir die rol wat Afrikaans in die geskiedenis van die bruin bevolking gespeel het. Van der Ross is van huis uit Engelssprekend maar hy is Standaardafrikaans uitstekend magtig. Hy verval nie in afgryslike Kaaps soos Gerwel so graag gedoen het wanneer hy met bruin studente gepraat het nie. “Ek praat in die huis weinig Afrikaans. My kinders het ook al kinders en hulle huistaal is Engels” (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 114). Wat opval, is dat Van der Ross as ‘n fyn beskaafde en Westersgeöriënteerde mens nie die vandalisme en gewelddadigheid van die “bevrydingstryd” verheerlik nie. Geen wonder dat hy hom in die nuwe Suid-Afrika eerder by die DA as die ANC geskaar het nie. Desnieteenstaande het die ANC-regering hom as ambassadeur in Spanje aangestel.

Van der Ross besin oor wie en wat die bruin mense is. Hy noem hulle ‘n “reasonably identifiable entity and group” wat hulle in gemeenskappe met eie inrigtings georganiseer het (p 6); “a distinct anthropological – racial, if you like – group” (p 22). Hy noem hulle ‘n “ethnic group” (p 6), maar skryf ook: “The Coloured people are of all kinds. Individually or in groups, we represent all kinds, because we are of all kinds” (p 8). “By about 1800, the Coloured people had become a definable population group – aware of the sameness, which drew them together, and of their otherness, which distinguished them from others among whom they lived” (p 113). In 1912 is in The APO (kyk hier onder) na afloop van ‘n sensus geskryf: “Coloured … includes a truly heterogeneous lot. In fact, everyone who is not a full-blooded Native … or is too well-known [not (?)] to be classed as European, is a Coloured person” (p 74-75).

“It is important to note that the Coloured people are not a nation or a race but a population group. Attempts to regard us as a nation have failed. Perhaps the nearest effort was when the group known as Griquas moved northwards and, after significant mingling with indigenous people and establishing themselves in a new physical environment, secured sufficient identity to claim nationhood. Even this was not absolute, however; for various reasons, the Griquas are still considered to be Coloured” (p 136). Omdat die bruin bevolking so ‘n wye spektrum dek, in die praktyk van wit tot by swart, kan daar in sy geheel beskou kwalik sprake van ‘n duidelik omlynbare etniese groep wees.

Die bruines is ‘n groep van rasgemengde afkoms wat tussen die wittes en die swartes inpas; in die praktyk dus ‘n oorgangsgroep. Hulle tussengroep- of tussen-twee-stoele-status het nie verander nie: “They were not white enough for the white government, and are not black enough for the black government” (p 188). Etnisiteit is en bly ‘n wesenlike faktor. Soos Malcolm Lupton dit gestel het: Die ANC is ‘n “black nationalist organization with which the Coloureds can never identify … Despite its ‘non-racial’ rhetoric, Coloureds (and Whites and Indians for that matter) will always remain on the margins of the ANC” (p 189). Van der Ross skryf: “While the end of apartheid technically ended racial discrimination, it did not stop South Africans from thinking or acting in groups. Indeed, the government still uses group thinking and language … The race groups tended to keep together; people sought the company of people who were like them in terms of race, social class, language and income … Such differences are not unique to South Africa” (p 194-195).

Bruines is myns insiens kultureel nader aan die blankes as aan die swartes. Van der Ross stem hiermee saam. Die bruines “was culturally very close to the Europeans. Consequently, attempts to regard them as a people culturally apart from the Europeans, and to segregate them from white South Africa socially and politically, failed” (141-142). Maar hierdie mate van eendersheid moet nie dermate oordryf word dat dit neerkom op die ontkenning van kulturele en ander verskille nie. Van der Ross oordryf as hy met verwysing na blankes skryf die bruines is “bone of their bone and flesh of their flesh” (p 154); ook as hy sonder meer sê: “We stem from the white population” (p 180). Ek het voorheen reeds herhaaldelik die aandag gevestig op bv (klem)verskille by wittes en bruines in hulle benadering van Afrikaans.

Wat hierdie mate van kulturele oorvleueling wel duidelik maak, is die vergesogtheid en opportunisme van daardie bruines wat deesdae poog om hulleself swart te verklaar. Van der Ross wys bv daarop “that in social matters there was not much in the way of interaction” tussen bruines en swartes (p 148). Hy het ook waargeneem “a significant shift of the Coloured vote away from the (black) African National Congress towards the (white) Democratic Alliance” (p 183). Jan Smuts het die bruines “an appendage of the whites” genoem. Hiervan wil Van der Ross niks weet nie: “The Coloured people simply … would not regard themselves as subordinate to the white population” (p 159).

Die ontstaan van die bruines word teruggevoer tot by die Khoi (Hottentotte) en die San (Boesmans). “When Van Riebeeck landed at the Cape in 1652, the Coloured people did not exist” (p 22). Hierna het die bruin bevolking ontstaan vanweë vermenging van die Khoi en San en ook vermenging met ander etniese groepe (p 11) soos die ingevoerde slawe (vanaf 1658) en die inheemse swartes en blanke setlaars. “They were a new people, but they were not primitive” (p 171). “There are elements of the San and the Khoi in us, but there are elements of so many other races in us too” (p 22). Van der Ross skryf, na aanleiding van die navorsing van MC Botha, dat daar meer Khoi as San in die bruin bevolking is (p 23) en dat die Khoi “more advanced” (p 27) of “more civilized” (p 12) as die San was.

Kenmerkend van baie bruines is hulle voorliefde vir die Britte/Engelse bo die Hollanders/Afrikaners. Gedurende die eerste Britse besetting van die Kaap “the British were starting to put into practice a more liberal form of rule than had prevailed in the time of the Dutch” (p 30; ook p 52). Dit is egter skynbaar (of moontlik) teenstrydig met wat Van der Ross later skryf: dat “intermingling – including intermarriage – was … socially acceptable until 1800” (p 51). In 1834 is die slawe amptelik vrygestel, maar daarna het daar vir hulle vier jare van verpligte vakleerlingskap/inboeking gevolg (p 32). Met die Groot Trek in die 1830’s het meer as ‘n duisend bruines die blankes die binneland in vergesel (p 34). Alle bruines het dus blykbaar nie ‘n voorkeur vir die Britte/Engelse bo die Hollanders/Afrikaners geopenbaar nie.

In die 20ste eeu is ‘n ander rede vir die bruines se voorkeur vir “die Engelse” aangevoer. Dit gaan egter verkeerdelik uit van die standpunt dat rasse-segregasie/apartheid deur die Afrikaners uitgevind is, terwyl dit in werklikheid ‘n voortsetting en ontwikkeling van die tradisionele Britse rassebeleid was. Van der Ross skryf: “There was always an alternative to the [National Party] government’s perspective on the colour question. These alternative viewpoints were generally held by the English-speaking white population” (p 198). Daar is myns insiens ‘n beduidende mate van skeefheid in hierdie siening.

Ek is teleurgesteld met hierdie stelling van Van der Ross: “After all, it was the Dutch who had imported slaves and the English who set them free” (p 43). Hierdie leuen word op subtiele wyse ook deur die personeel van die Slawemuseum in Kaapstad verkondig, soos Marthinus van Bart in sy boek, Kaap van slawe (Tokai: Historical Media, 2012), aantoon. Die waarheid, volgens Van Bart, is “dat daar gedurende die Eerste Britse Bewind, 1795-1803, meer slawe na die Kaapkolonie gebring is as in enige ander tydperk van dieselfde lengte” (p 15). Gedurende die Bataafse [Nederlandse] Bewind (1803-1806) “is ‘n geringe hoeveelheid slawe ingevoer voordat die handel verbied is” (p 15). “Vanaf 1806, die aanvang van die Tweede Britse Bewind, het die getal [slawe] met nog 33 000 aangegroei” (p 15). Met die grootste vlootmag was die Britte wêreldwyd die grootste slawehandelaars.

Erger: Die Britte het Iere as slawe na Amerika uitgevoer (Rhetta Akamutsa, The Irish slaves, 2010, 204p, Amazon Kindle $6.83); ook na eilande soos Barbados (Sean O’Callaghan, To hell or Barbados: the ethnic cleansing of Ireland, 2013, 248p, Amazon Kindle $10.49). Nog erger: Die Britte het van hulle eie mense (bv misdadigers, leeglêers en straatkinders) as slawe na Amerika en Wes-Indiese eilande uitgevoer (Don Jordan & Michael Walsh, White cargo: the forgotten history of Britain’s white slaves in America, 2011, 322p, Amazon Kindle $18.67; Anthony Vaver, Bound in an iron chain: the untold story of how the British transported 50 000 convicts to colonial America, 2011, 360p, Amazon Kindle $10.25). Hierdie gebeure het veral in die 17de eeu plaasgevind; dus in die tyd toe Jan van Riebeeck aan die Kaap was en ook voor en na sy tyd. Die punt is: Van der Ross en ander bruines asook die Slawemuseum se verering van die Britte as dié slawebevryders is misplaas. Die Bataafse Republiek (1795-1806) het baie vroeër as die Britte ‘n morele sensitiwiteit oor slawerny ontwikkel.

[Brittanje se latere verbanning van gevangenes na Australië is wyer bekend as sy wit slawerny in Amerika. Maar ons hoor gewoonlik net van swart slawerny en uitsluitlik wittes kry die skuld daarvoor. Dat daar nie-wit slawe-eienaars aan die Kaap en in Amerika was en Arabiese eienaars van wit slawe in bv Noord-Afrika, word meesal verswyg. Louis Albert Banks se White slaves; or, the oppression of the worthy poor (Boston: Lee & Shepard, 1893, 336p; Amazon Kindle $0) handel oor ‘n ander onderwerp, te wete arm maar werkende blankes in Boston, Massachusetts. Banks loof die arm wittes omdat hulle hulle nie tot bedelary, diefstal en ander misdade gewend het nie. Weens die ANC-regering se beleid van rassediskriminasie teen blankes is daar baie arm en werklose wittes in die nuwe Suid-Afrika, maar Banks se lof is in groot mate ook op hulle van toepassing; heel moontlik in groter mate as op ander etniese groepe.]

Die eerste liggaam wat rigting aan bruines se aspirasies gegee het, was die African Political Organisation (APO) in 1902, van 1919 af die African People’s Organisation genoem (p 38). Die APO het soms geskrifte in Afrikaans gepubliseer, bv Piet Uithalder se “Straatpraatjies” (p 65). FA Ponelis het dit “Kaapse Vernakulêre Afrikaans” genoem (Steyn, p 113-114). Dit dui nie daarop dat die APO waardering vir Afrikaans of Hollands gehad het nie. In 1911 word “Cape Dutch … a vulgar patois” in The APO genoem (p 71). [Patois: “Meestal neerhalend bedoelde benaming vir ‘n plaaslike, dialektiese taalvorm” (HAT).] Die APO het Engels bewonder en vir “Cape Dutch” geen goeie woord gehad nie. “So word Engels op 13 Augustus 1910 beskryf as ‘the language which inspires the noblest thoughts of freedom and liberty, that has the finest literature on earth, the language that spreads widely over the face of the earth, and is the most universally useful of all languages.” “Cape Dutch”, daarenteen, word genoem ‘n “bastard lingo”, “a vulgar patois fit only for children”, “the patois used by Dutch Members [of Parliament] is the crudest medium of expression used in any Parliament in the civilized world” (Steyn, p 114).

In 1924 is die meer gematigde Afrikaanse Nasionale Bond gestig (p 41), wat in ‘n mate vir lief met rasse-segregasie geneem het (p 42). Volgens Van der Ross het die Nasionale Party van 1925 tot 1929 die integrasie van wittes en bruines voorgestaan. Die keerpunt in hierdie beleid het met die algemene verkiesing in 1929 gekom toe die bruin kiesers oorweldigend vir die Suid-Afrikaanse Party gestem het. Dit was ‘n voortsetting van die stemreg wat bruines sedert 1853 in die Kaapkolonie gehad het. In 1929 het rasse-segregasie, ook wat die bruines betref, Nasionale Party-beleid geword (p 43, 136, 162).

Waarteen sterk beswaar uit bruin geledere gekom het, was die bepaling in die Suid-Afrika Wet van 1909 dat net blankes van 1910 af sitting in die Unie-parlement sou hê. Dit was op aandrang van die verteenwoordigers van die Transvaal en Vrystaat. “The Afrikaners were reconciled to having lost the war but determined not to lose their Afrikaner identity” (p 109). In APO-geledere is die nie-wittes na Uniewording as “political slaves” beskou (p 96). “They feel a loathing and contempt for everything that is white” (p 100). Die Wet of Groepsgebiede van 1950 was die volgende groot terugslag vir die bruines, want “this meant that the Coloured people were moved, rather than the white people” (p 143). Die ander groot ontnugtering was toe die bruines in 1956 van die parlementêre kieserslys verwyder is. Die Nasionale Party is in sy houding gesterk deurdat die Coloured People’s Congress hom in 1955 by die ANC geskaar en die Vryheidsmanifes aanvaar het (p 131).

In 1923 word daar in die publikasie, The APO, teen ‘n ander vorm van beweerde slawerny beswaar gemaak. Ooreenkomstig Wet 25 van 1913 “a Coloured child … may be apprenticed to a European until it reaches the age of 18” (p 103). Dit was nie noodwendig ‘n onding nie. My ouma het in die jare veertig verantwoordelikheid vir so ‘n ingeboekte bruin kind, Frikkie, aanvaar. Hy het namiddae na skool ‘n bietjie tuin- en stuurwerk gedoen. In ruil daarvoor is hy van lewensmiddele soos kos en klere voorsien. Sy het dit vir hom moontlik gemaak om hom as onderwyser te bekwaam. Frikkie was lewenslank opreg dankbaar vir hierdie “slawerny”. Wat ek hier skryf, is die waarheid, maar dit is die soort verhaal wat ‘n mens deesdae (feitlik) nooit hoor nie.

In 1914 het nie-wittes ‘n petisie oor mynregulasies aan die parlement voorgelê: “Whenever the definition White appears it should be substituted by the word competent, and that whenever the Colour Bar has been introduced into the Regulations it should be removed” (p 81). Ook in die geval van winkeliers moet dit nie om ras gaan nie, maar bloot om die vraag of die persoon “fit and proper” vir so ‘n onderneming is (p 81). Deesdae lyk dit na gesonde beginsels. Ek onthou hoe die UWK-studente in 1976 (en talle ander mense by ander geleenthede) vir die afskaffing van alle rassediskriminasie betoog het. Ook is daar tydens apartheid telkens versoek/geëis dat politiek uit sport gehou moet word.

Wat ek eienaardig vind, is dat hierdie selfde mense deesdae geen kritiek uitspreek teen die rassediskriminasie wat op groot skaal teen blankes gepleeg word nie. Byvoorbeeld, in 1961 is beswaar teen werkreservering gemaak (p 147). In die nuwe Suid-Afrika maak die bruines beswaar as hulle nie in dieselfde mate as swartes by die toekenning van poste bevoordeel word nie. Maar hulle kritiseer nie die ANC se behandeling van blankes nie. Hulle is ook stil oor al die politiek wat Suid-Afrikaanse sport tans deursuur, bv raskwotas. Van der Ross vat dus ‘n reusekans wanneer hy skryf: “At no time did we deny the rights that we sought for ourselves to other ethnic groups” (p 177).

Van der Ross kom met hierdie eintlik lagwekkende stelling oor die blankes: “Because the conquerors, or settlers, were more advanced technologically, meaning that they were better armed [!], they generally managed to retain their superiority by establishing themselves as a class superior to the people they had conquered” (p 141). Die veronderstelde meerderwaardigheid van die blankes het in werklikheid veel meer om die lyf as bloot die beter wapens waaroor hulle eens beskik het.

Die outeur verskaf die volgende historiese opsomming van die politieke opset in Suid-Afrika: “The country’s political direction was determined, to a great extent, by the clash between the Afrikaners – who were essentially stock farmers and who considered themselves to have rights by virtue of having been the first European settlers – and the English, who ruled by right of conquest and whose interest resided in their mastery of the sea routes and, later, their technical advantage in the mining industry” (p 105). Die tragedie is dat albei hierdie wit groepe se regte in die 1990’s op verraderlike wyse effektief beëindig is; op grond van ‘n hoogs twyfelagtige redenasie: Die swartes moet die land regeer omdat hulle baie meer in getal as die ander etniese groepe is; nie omdat hulle meer tot stand gebring het of beter as nie-swartes kan regeer nie. Die tragiese waarheid van die nuwe Suid-Afrika is dat die swartes om die verkeerde redes (getalsoorwig en gewelddadigheid) die land regeer, terwyl hulle in werklikheid glad nie in staat is om (doeltreffend) te regeer nie.

Die volgende is moontlik die interessantste brokkie inligting in die boek. Nadat Nelson Mandela die terreurgroep, Umkhonto weSizwe (MK), gestig het, het hy in 1962 die Coloured Convention versoek

“to send a representative to speak to him in Johannesburg. I was sent, and met Mandela and three or four others at the home of Ahmed Kathrada for three or four nights. Mandela put his proposal plainly. He said that MK was planning an armed uprising. He knew that the Coloured people at the Cape had a following and suggested that we start the revolution, after which the African people in the north would take it up and, with their numbers, would finish it … I returned to Cape Town, and reported. The Convention decided they could not support the request” (p 148-149).

Weens propaganda word Mandela deesdae algemeen as die ikoniese vredemaker en versoener beskou. Hier sien ‘n mens egter die eintlike sluwe, naïewe en gewelddadige Mandela in aksie. Hy wou die bruines voorstoot om die revolusie te begin, dus die proeflopie te doen, wat hoogs riskant was. As dit suksesvol blyk te wees, sou die swartes daarna die politieke mag oorneem. Die bruines het die insig gehad om hulle nie op hierdie manier te laat mislei en misbruik nie.

Iets waaroor daar deesdae dikwels en graag gelieg word (bv deur Allan Boesak), is die ontstaan van die NG Sendingkerk in 1881. Die waarheid is dat die skeiding van die NG Kerk en die Sendingkerk vrywillig was en ook nie absoluut volgens ras of kleur nie, soos Van der Ross tot sy eer ook duidelik maak: “Although the Mission Church was intended for the Coloured members, some Coloured people remained members of the Moederkerk (Mother Church), including the entire St Stephen’s congregation in Cape Town” (p 149).

Van der Ross verwag nie dat die bruines as ‘n bevolkingsgroep sal verdwyn nie, hoewel “Africanness” vorentoe polities meer aanvaarbaar kan word (p 172). As die bruines werklik swart word, sou hulle deel van die meerderheid wees, “but this is not likely to happen because of cultural differences” (p 186). Sonder om enigeen by die naam te noem, beskou hy die aanstelling van die volgende bruines as moontlike tekens dat daar toenadering tussen wittes en bruines plaasvind: Christo van der Rheede as hoof van die Afrikaanse Handelsinstituur (AHI), Henry Jeffreys as redakteur van Die Burger, Russel Botman en Jonathan Jansen as rektor van onderskeidelik die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit Vrystaat (p 173). Ek dink dat hierdie vier mense vanweë hulle funksionering in daardie poste bewys gelewer het van die kulturele en politieke kloof wat daar tussen Afrikaners en bruines bestaan. Al vier het eerder die ANC ten koste van blanke belange gedien.