Die Fitch-graderingsagentskap het die eertydse Suid-Afrikaanse maatskappy wat tans sy hoofkantoor in Londen het, Anglo American plc, se vooruitsig van stabiel na negatief verander. Die agentskap het egter die langtermynlenerstatus en senior ongedekte lenings op enkel-"A" behou, asook die maatskappy se korttermynlenergradering van "F1".
Die senior ongedekte gradering van Anglo American Capital plc – Anglo se gewaarborgde filiaal – is ook herbevestig op "A", het Fitch Dinsdag in 'n verklaring gesê.
Die vooruitsigverandering weerspieël die moontlikheid dat Anglo se kredietsyfers gedurende 2009 buite Fitch se riglyne vir "A" mag beweeg, waaronder 'n maksimum hefboomeffek van drie keer.
Dié situasie weerspieël die maatskappy se bykomende skuldlas as gevolg van die aankoop van twee Brasiliaanse ysterertsmyne gedurende 2008.
In die loop van 2009 sal Fitch aanhou om die maatskappy se aankondigings te monitor insake maatreëls om sy kontantposisie te beskerm, asook bewegings in hulpbronpryse, teenoor bestaande beramings oor die maatskappy, het die agentskap verklaar.
