EU-hulp aan Zim vloei steeds

Hulpkommissaris van die Europese Unie, Karel De Gucht, het gesê die EU sal vanjaar hulp van €90 miljoen aan Zimbabwe gee.

"Die Europese Unie het nog nooit opgehou om Zimbabwe te help nie," het die hulpkommissaris gesê aan die einde van sy tweedaagse besoek aan die land. Dit is die eerste besoek in sewe jaar waar die EU-blok samesprekinge met Mugabe se regering gehou het.

Die Sweedse minister van ontwikkeling, Gunilla Carlsson, wie se land die roterende EU-presidentskap hou, het gesê daar is nog steeds menseregteskendings in Zimbabwe.

"Die EU het 'n duidelike riglyn dat die sleutel tot die land se terugkeer die volle implementering van die globale politieke ooreenkoms is," het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat die magsdelingsooreenkoms en die regering van nasionale eenheid 'n "belangrike stap in die rigting van normalisering van die situasie in Zimbabwe is".

Die besoek van die EU-afvaardiging kom op 'n tydstip waar streeksleiers vra dat die sanksies teen president Robert Mugabe en sy bondgenote opgehef word.

Die sanksiese behels ondermeer bevriesde bates en 'n reisverbod  op Mugabe en sy helpers.

Die EU het egter aangedring op verdere hervormings soos waarborge vir politieke en mediavryheid.

Suid-Afrika, swaargewig in die streek, het Vrydag die EU-afvaardiging ontmoet om aan te dring daarop dat sanksies laat vaar word sodat die ooreenkoms tussen Mugabe en Tsvangirai wat in Februarie onderteken is, kan voortgaan.

Die EU het sedert 2002 sowat €600 miljoen se humanitêre hulp aan Zimbabwe verleen.

Акваэлиталександр лобановский харьков класс