Vandag is daar doringdraad tussen ondersteuningsgroepe in Ventersdorp gespan om die Terre’Blanche simpatiseerders en die ondersteuners van die aangeklaagdes uitmekaar te hou. Swart inwoners in Ventersdorp juig oor Terre’Blanche se dood – die misdadigers is helde. AWB lede en simpatiseerders huil soos familie.
Is dit nie simbolies van wat in die hele SA aan die gebeur is nie? Ek luister vanoggend na ‘n radio-bespreking tussen Gwede Mantashe, Pieter Mulder en Helen Zille. Wat my opgeval het is dat Mantashe en die ander twee mekaar glad nie kon vind in die gesprek nie. Hulle is wêrelde uitmekaar. Hoe meer daar gepraat word, hoe groter die kloof en die misverstand.
Daar is stygende polarisasie, teenoor dalende patriotisme. Is daar iemand wat nog enige hoop het vir eensgesindheid tussen bevolkingsgroepe in die land? Wat het verkeerd geloop?
Wel, die wittebrood is verby. Terwyl die wêreld die Mandela-wonderwerk in SA geïdealiseer het, en lofliedere daaroor gesing het, is die foutjies van die regering oorgesien. Verskonings was daar genoeg: Die nalatenskap van apartheid, te min voorheen benadeeldes in bestuursposisies (BEE werk te stadig en word omseil), te min vroue in bestuursposisies, te min geld om grondhervorming af te handel, te min dat, te veel van die ander ding.
Die betekenis van die boere-skiet lied is tot vervelens toe bespreek – die ANC weier om te erken dat dit negatiewe persepsies by enigiemand kan skep, wat nog te sê mense aanhits tot geweld. Persepsies is nou eenmaal subjektief, en dit kan die slimste mense in die ANC nie verstaan of aanvaar nie.
Die kultuurverskille tussen Afrikaner en ANC lê aan die wortel van die probleem. Dit kan nie langer wegredeneer word nie. Blanke jingo’s het so hard hulle kan probeer om die Afrikaner te oortuig dat die reënboognasie haalbaar is, dat ‘n pot goud op almal wag. Die leuen het hulle ingehaal. Max du Preez en sy soort weet nie meer watter kant toe nie.
Vir my as Afrikaner raak dinge nou baie ernstig. Ek het die boodskap duidelik gekry van Malema, Mantashe, Mthembu en Zuma: Afrikaners is nie welkom in Suid-Afrika nie. Nee, moenie skrik en pak vir Perth nie! Julle is welkom as belastingbetalende melkkoeie! Sonder regte. Sonder grond. Sonder eie taal. Sonder behoorlike dienste. Hou-den-bek belastingbetalers.
Kan ons vlug na ander lande? Dalk ja, as jy jonk genoeg en gekwalifiseerd genoeg is. Europa is buite die kwessie vir die meeste van ons. My oupagrootjie het van Nederland af gekom om in die Tweede Vryheidsoorlog te veg, maar ek kan nie terug Nederland toe nie. Europa het homself lam geskrik vir immigrante uit Afrika.
Al wat oorbly is Suid-Afrika, of ten minste my volk se deel daarvan. Saamlewe met barbare sal nie werk nie. Ek voel effens jammer vir die sogenaamde gematigde swartmense in die land. Ongelukkig kry hulle dit nie reg om die ANC se rem aan te draai nie. Cope het gekom en misluk. Oehoeroe is ons voorland. Die ANC maak dit duidelik dat die verwysing na boere in die skiet-lied, nie net plaasboere is nie, maar Boere, dws Afrikaners!
Watter offers sal ons moet bring vir ‘n Afrikanerstaat? Ons kan baie lesse by Israel leer. Ek twyfel egter of Israel nog sou bestaan as die ryk Amerikaanse Jode dit nie finansieel en andersins bly ondersteun het nie. Afrikaners het nie ‘n ryk oom in die buiteland nie. Ons sal dit op eie stoom moet regkry (natuurlik met die nodige verootmoediging voor ons Skepper en die afhanklike vertroue op sy seën).
Ons sal twee sake dringend in plek moet kry: ‘n Verteenwoordigende Afrikanerraad wat op internasionale basis ons regte moet afdwing, en groter ekonomiese onafhanklikheid. Daar het die afgelope paar dae briljante idees op Praag na vore gekom: eerstens, koop by jou eie mense, verkoop aan almal, neem jou volksgenote in diens, neem afskeid van ‘n luukse lewensstyl en ruil dit in vir ‘n nederiger maar veiliger bestaan, vergeet die afgode soos sport en lotto, en fokus op geestelike en fisiese paraatheid van jou gesin, jou familie, jou bure, jou volksgenote. Die kundiges van die volk wat nog in sleutelposisies werk, kan planne bedink om die regime se stelsel deur lydelike verset te ontwrig, of selfs meer indien nodig. Solidariteit (die Poolse een), is ook ‘n goeie voorbeeld vir ons.
Ons Volkstaat sal nie net sterk genoeg moet wees om te oorleef nie, maar ook om homself te verdedig teen aanvalle en plundery. Ons jong manne sal weer opgelei moet word vir grensdiens, troffel in die een hand, en swaard in die ander. Lees weer Nehemia – die mure sal herstel moet word deur biddend te bou.
Daar is stemme wat opgaan dat ons genoeg gepraat het, en nou moet begin doen. Wel, as ons al die dinge hierbo genoem goed deurdink, beplan en doen, is ek seker ons sal iets bereik. Laat ons saamstaan en begin werk – nie as politieke partye of identifiseerbare strukture nie, maar elkeen op eie werf, tot voordeel van ons volk, ons nageslag, en tot eer van God.