Islamitiese Staat uit Palmira verdryf

Die Siriese stad, Palmira, wat deur djihadiste van die Islamitiese Staat (IS) in Oktober 2015 in puin gelê is, is herower.

Siriese troepe het met die hulp van Russiese lugaanvalle die naweek daarin geslaag het om die antieke stad te ontset wat as ‘n Unesco-wêrelderfenisplek verklaar is.

Pres. Bashar al-Assad het die sege as ‘n “belangrike mylpaal” in die stryd teen IS beskryf.

In 2015 toe die geveg om Palmira gewoed het, het die Amerikaanse lugmag nie ingegryp nie. IS kon toe die antieke stad verower omdat hulle deur die oop Oos-Siriese woestyn vryelik voorrade en ammunisie verkry het.

Die bevryding van Palmira is ‘n beslissende keerpunt in die oorlog teen Sirië.

Terwyl daar vroeër militêre suksesse was, is die publisiteitswaarde van die beveiliging van die gewaardeerde Romeinse ruïnes hoër as met vorige oorwinnings.

Die Siriese regering word ook skielik nie meer as “die Assad-regime” voorgehou nie.

Ban Ki Moon, die hoof van die Verenigde Nasies, het die Siriese regering met sy sukses gelukgewens.

Die bevryding van Palmira is moontlik gemaak deur die gebruik van Russiese elektroniese oorlogvoering.

Die Islamitiese Staat het geïmproviseerde plofladings in die ruïnes geplant, maar was nie in staat om hulle per afstand te laat ontspring nie.

Die Russiese toerusting het elektromagnetiese seine om Palmira versteur wat dit verhoed het.