‘n Polisieman en ‘n passasier is Dinsdagaand aan boord die snelbusdiens (BRT) gewond nadat skote vanuit ‘n minibus in Soweto op hulle gevuur is.
Volgens insp. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, het ‘n Toyota Quantum-minibus die snelbus agtervolg en buite die Nancefield hotel op die insittendes losgebrand.
“’n Polisieman is in die been getref en ‘n onbekende passasier is ook gewond. Albei is in die hospitaal opgeneem,” het Makhubela gesê.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Daar is nie sekerheid oor hoeveel mense aan boord die snelbus was nie.
Die BRT is Sondag tydens ‘n spoggeleentheid geopen. Taxi-bestuurders is ongelukkig oor die snelbusdiens omdat hulle glo dit sal die einde van hulle werk beteken.
