Die polisie in die Suid-Kaap het vakansiegangers gevra om uit te kyk vir vreemde items wat in die see dryf.
Dié oproep volg nadat sakke wat vermoedelik met kokaïen ter waarde van R50 miljoen gevul is, op die strand tussen Mosselbaai en Klein Brakrivier uitgespoel het.
Die polisie sê die sakke is na ‘n laboratorium gestuur om vas te stel of die inhoud wel kokaien is.
Dit is glo die vierde ontdekking sedert Kersfees.
Intussen het twaalf mense wat in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is weens die beweerde besit van dwelms ter waarde van R5 miljoen, in die Verulam landdroshof verskyn.
Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die saak is uitgestel tot 8 Januarie wanneer die beskuldigdes om borg sal aansoek doen.
Die polisie het beslag gelê op 100 Mandrax tablette, ‘n groot hoeveelheid kokaïen- en heroïenmengsel asook heroïenpoeier.
Die hoeveelheid kokaïen waarop die polisie reeds beslag gelê het in Suid-Afrika in die afgelope jaar is soveel soos 26 volwasse olifante in gewig.
Die onwettige drank wat hulle gekonfiskeer het sal amper ‘n Olimpiese swembad vul, wat 2,5 miljoen liter water kan hou.
Die minister van polisie het vroeër aangekondig dat in 2012/13 sowat 145 560kg se kokaïen gekonfiskeer is saam met 196 ton dagga en 347 860kg tik .
Daar is 89 klandestiene laboratoriums opgespoor en afgebreek oor die afgelope drie jaar.
In die Wes-Kaap is 2 501kg se “whoonga” ook opgespoor. Dit is ‘n dwelmkonkoksie wat glo gemaak word van anti-retrovirale VIGS-medisyne.
