Daar is reeds 21 000 ekstra troepe na Afghanistan ingestem wat die totale teenwoordigheid op 68 000 te staan bring en nog bykomende soldate gaan 'n kopseer vir die president wees omdat hy reeds sukkel met die VSA se fiskale tekort.
Maar dit gaan baie moeilik wees om die versoek vir meer soldate af te keur. Generaal McChrystal, die nuwe bevelvoerder in Afghanistan, gaan waarskynlik vir 10 000 ekstra soldate vra. Daar is selfs gerugte dat hy 20 000 of 30 000 kan versoek.
Hy geniet daarbenewens die ondersteuning van David Petraeus, hoof van die Sentrale Bevel. Militêre kenners is oor die algemeen van mening dat die verhouding tussen die bevolking en die aantal soldate nie hoog genoeg is nie. Teen die huidige tempo sal dit tussen 12 en 14 jaar neem om sukses te behaal.
Maar meer soldate beteken hoër kostes en die dodetal is besig om drasties toe te neem met die "skoonmaak, hou en bou" strategie van die VSA wat uitbeweeg en versprei na kleiner dorpies.
Die groeiende aantal sterftes kan 'n ernstige terugslag vir Obama inhou. Hy hou reeds die oorlog daar voor as een van "noodsaak" teen Al Kaida, terwyl die oorlog in Irak as een van "keuse" voorgestel word en daarom beëindig is.
Na afloop van volgende week se verkiesing in Afghanistan gaan die koalisietroepe, waaronder Brittanje, begin huiswaarts keer en Amerika met die gebakte pere laat omdat die hoogs oneffektiewe Hamid Karzai waarskynlik as leier gaan aanbly.
Dit is lankal nie meer Bush se oordeelfoute waarop Obama kan staatmaak wat Afghanistan betref nie. Dit is nou Obama se eie persoonlike oorlog en dit gaan toenemend sy eensame stryd in die wêreld word soos wat die VSA geïsoleer raak.
