Of daar ’n formele Duitse verskoning sal wees of nie, is onbekend, maar die federale regering in dié land het uitdruklik erken dat die gruweldade teen die Nama en die Ovaherero wel volksmoord was.
Volgens internasionale media het die Duitse Bundestag president, mnr. Norbert Lammert, Woensdag reeds van volksmoord gepraat, het die Republikein berig.
Hy het dit tydens ’n herinnering aan die slagting van die Duitse koloniale troepe in die voormalige Duits-Suidwes-Afrika gedoen.
“Die oorlog van uitwissing in Namibië tussen 1904-1908 was ’n misdaad en volksmoord,” het Lammert glo gesê.
Dit volg ná afgevaardigdes van die nasate van die volksmoordslagoffers verlede week in Duitsland was vir die oorhandiging van ’n petisie met 2 000 handtekeninge van nie-regeringsorganisasies aan die Duitse regering.
Hoewel die Duitse regering nie amptelik met die nasate van die volksmoordslagoffers oor hierdie erkenning gekommunikeer het nie, het prof. Phanuel Kaapama, een van die volksmoordkomiteelede, gesê die regering se erkenning kan aan dié petisie toegeskryf word.
Die woordvoerder van die Duitse ministerie van buitelandse sake, mnr. Martin Schaefer, het Vrydag aan verslaggewers in Berlyn gesê dat hierdie kwessie die afgelope jare deel van die gesprekke tussen die federale en Namibiese regerings is.
Toe hy gevra is of daar ’n amptelike verskoning sou wees, het Schäfer slegs vir geduld tot die einde van die onderhandelinge gevra.
Onder wetenskaplikes, wat ook deel vorm van die 2 000 mense wat die petisie onderteken het, bly die term ‘volksmoord’ grootliks onbetwis.
Die twee Ovaherero/Ovambanderu-volksmoordkomitees en dié van die Nama’s sal vandag ’n amptelike nuusverklaring in hierdie verband uitreik.
Volgens opperhoof Tjinaani Maharero van die Tjamuaha-Maharero-koningshuis, het hulle ooreengekom om ’n gesamentlike mediakonferensie oor hul besoeke in die buiteland te hou.
Die Nama-, Ovambanderu- en Ovaherero-volksmoordkomitees was in Duitsland, terwyl die OCD-1904-raad in Londen was om internasionale steun te wen vir hul poging om ten opsigte van reparasies druk op die Duitse regering uit te oefen.
