Swart dosent glo soos dier geslag

Die bebloede lyk van ’n swart dosent en nagraadse student aan die Universiteit van die Vrystaat, wat “soos ’n dier geslag” is, is in sy woonstel in Bloemfontein gekry.

’n Klag van moord word ondersoek.

Hy is die vierde Kovsie-student wat die laaste twee maande onnatuurlik dood is.

Lehlohonolo Mathengtheng (27), was ’n dosent in die departement mediese mikrobiologie en virologie.

Hy is in sy woonstel in die Madaleenhof-woonstelblok in King Edwardweg vermoor.

Polisiebeamptes het Sondagoggend op sy naakte lyk afgekom. Hy is waarskynlik reeds Vrydagaand vermoor, het die polisie gesê.

Die moordwapen, ‘n mes, ’n gebruikte kondoom en twee selfone is in een van die slaapkamers gekry.

Mathengtheng se huismaat is sedert Vrydagaand in Johannesburg.

Mathengtheng was van Odendaalsrus.