Die hoofopposisieparty in die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) sê onderhandelinge met pres. Joseph Kabila vóór verkiesings, het ’n dooie punt bereik.
Kabila, wat sedert 2001 die staatshoof is, is grondwetlik nie toegelaat om in volgende jaar se verkiesings te staan nie.
Sy tweede verkose termyn loop dan ten einde. Sy teenstanders beskuldig hom egter daarvan dat hy aan die mag wil vasklou, het AFP berig.
Kabila het in Junie met beraadslaging met opposisiegroepe begin, maar net die Unie vir Demokrasie en Maatskaplike Vooruitgang (UDPS) het ingestem om dit by te woon. Twee ander belangrike groepe boikot die beraadslagings.
Die veteraan UDPS-president, Etienne Tshisekedi (82) het in ’n verklaring wat van sy huis in Brussel uitgereik is, gesê die onderhandelinge het misluk en dat hy sy party se afgevaardigdes opdrag gegee het om “die onderhandelingstafel onmiddellik te verlaat.”
Tshisekedi, wat in 2011 deur Kabila verslaan is in ’n verkiesing wat waarnemers as “deurspek met bedrog” bestempel het, het politieke en maatskaplike magte aangemoedig om te veg vir ’n geloofwaardige verkiesingsproses om ’n vreedsame oordrag van gesag te verseker.
