Hulle het hul misnoeë uitgespreek oor die uitslag van die onderhandelings wat Dinsdagaand in Johannesburg geëindig het.
Dr. Molefi Sefularo, die adjunkminister, het die nuwe aanbod persoonlik aan dokters oorgedra tydens die byeenkoms, maar die regering se finale salarisaanbod is volgens medici nie voldoende nie en talle sê die stakings gaan voort.
In KwaZulu-Natal heers reeds onmin, ook oor die feit dat sekere provinsies dokters begin afdank. Talle dreig om die staking voort te sit totdat afdankings teruggetrek word.
Dokters kla verder oor die haglike werkomstandighede.
Spanne van die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens is by ses hospitale in KwaZulu-Natal, twee in Mpumalanga, die Tembisa-hospitaal aan die Oos-Rand en drie ander hospitale ontplooi.
Woordvoerder van die 150 stakende dokters in Mpumalanga wat voor die Rob Ferreira-hospitaal in Nelspruit betoog het, dr. Thomas Bredenkamp, het volgens Beeld gesê: “Hulle moet ons ook nie probeer wysmaak ons is besig om die dokters se etiese kode te verontagsaam nie."
“Die kode sê ons moet in die beste belang van ons pasiënte optree. En dit is presies wat ons nou doen. Pasiënte het lank genoeg gely onder die mediese stelsel wat in duie stort.”
