Die dodetal vir 2013 se feesseisoen gaan die hoogste in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wees. Die aantal sterftes kan so hoog wees soos 1736, sê ‘n bestuursvaardigheidspesialis Rob Handfield-Jones.
Handfield-Jones was Vrydagoggend op AM Live waar hy gesê het in 2008/2009 was die voorlopige dodetal tydens die feesseisoen 937.
Hy sê dié syfer kan met 15% styg tot 20% teen die tyd dat die 30 dae wagtydperk vir verkeersterftes afgehandel is.
Dit beteken dat 2013 se Kersfees die eerste feesseisoen kan word waarin meer as 2000 verkeersterftes plaasgevind het.
Jones sê die toename in die dodetal kan toegeskryf word aan die lisensiëringstelsel wat in duie gestort het.
Hy sê korrupsie en omkopery is een van die groot uitdagings in die lisensie-afdeling.
Jones het ook die skuld gepak op die Road Traffic Management Corporation (RTMC) vir sy gebrek aan leierskap en hy het ook ‘n beroep op alle motoriste gedoen om die reëls van die pad te gehoorsaam.
Druk verkeer word van vandag af op die land se paaie verwag met vakansiegangers wat terugkeer huis toe.
Volgens die Gautengse verkeersdepartement is verkeersbeamptes op die provinsie se paaie slaggereed vir die groot terugtog.
Die N1, N2, N3 en die N4 sal na verwagting druk besig wees.
Owerhede by die land se grensposte verwag die groot toeloop van vandag af.
Veral die Lebombo-grenspos naby Komatipoort op die grens na Mosambiek, sal na verwagting besonder besig wees en sal 24 uur beman word.
Sowat 600.000 Mosambiekse mynwerkers en vakansiegangers het die grens net in Desember oorgesteek.
