Cornelius Jansen van Rensburg het onvoorwaardelik sy verskoning aan die leier van die VF Plus, dr. Pieter Mulder en die VF Plus as party, aangebied.
Dit volg nadat Jansen van Rensburg skuldig bevind is deur die party se Federale Regskomitee dat hy die VF Plus se grondwet oortree het.
Die oortreding was dat hy uitsprake in die media gemaak het wat getuig het van wantroue, disrespek en dislojaliteit teenoor die Vryheidsfront Plus en sy nasionale leier en dat hy nie die interne kanale in die party daarvoor gebruik het nie.
Die VF Plus se Federale Raad, as hoogste gesagsliggaam, het Jansen van Rensburg sy lidmaatskap van die VF Plus laat behou, maar hy is verwyder uit alle ampte van die VF Plus-jeug, asook as onderleier van Gauteng.
Hy behou egter sy amp as raadslid van Pretoria. Sou hy in die volgende vyf jaar ‘n soortgelyke oortreding begaan, sal sy lidmaatskap summier beëindig word. Jansen van Rensburg het die besluit aanvaar en onvoorwaardelik sy verskoning aangebied.
