Die eenarmbandiet, ‘n toebroodjie op die Steppe en die baard van Max du Preez 3

ImageIn hierdie derde en finale aflewering vertel Gustav Venter vir ons wat ‘n Russiese toebroodjie is en hoe die Afrikaner se skuldgevoel telkens geld soos ‘n vrygewige dobbelmasjien laat reën…

Die mot in die oor

 

Deur die dag is dit draaglik. Hy het sy boeke en sy vergeelde kopieë van die VWB en partykeer loer daar iemand in vir wie hy nog nie die oorlogstories (een naweek het hulle nie geld gehad om die Weekblad uit te gee nie en toe maak hulle – die karnallies! – asof hulle dit in solidariteit met aangehoudenes teruggehou het) vertel het nie. Maar in die nag kom die stemme tot hom en hy spartel in koue sweet om nie te  hoor wat hulle sê nie. Maar jy kan net só lank by jouself neurie om die stemme uit te doof, net so lank wegkyk en ander pad toe luister, kan jy nie? En dan fluister die stemme die waarheid aan hom, die een onveranderlike wat hy nie wil hoor nie:

“Die Nuwe Suid-Afrika,” sis hulle en dit voel asof sy skedel gaan bars, “is nie ’n prys wat deur ’n rewolusie gewen is nie, of hoe Max? Die Nuwe Suid-Afrika is ’n vergunning van die Afrikaner.”

Nee-nee-nee-nee… Nee! Ja. Dit is so. Hy wéét dit is so.

Dat enige mag die Afrikaner se greep op Suid-Afrika kon loswoel, dít glo Max nie. Daarvoor ken hy die Afrikaner te goed. En ’n kwynende vryheidsbeweging soos die ANC wat geleef het óf op die tronkkos van Robbeneiland óf wat vet geword het op donateurspyse in die buiteland, het geen kans gehad om ’n selfversekerde, taai, vasberade Afrikaner uit die regeerstoel te lig nie.

Maar Archimedes het al in antieke tye gesê dat, as hy ’n plek gehad het om vas te trap en ’n lang genoeg hefboom gehad het, hy die aarde sou kon skuif. Daardie vastrapplek en daardie paal om die Afrikaner te verskuif, is gevind. Die hefboom was die Afrikaner se gewete en die vastrapplek was die moraliteitsfondasie wat die liberale media vir hulleself geskep het. Max weet dit. Die Afrikaner het van apartheid afgesien, nie omdat hy verskrik of vereensaam is deur die buitewêreld se optrede nie – vir seker nie omdat hy geïntimideer is deur MK en APLA se komieklike “gewapende stryd” nie – maar omdat hy tot die gewetensoortuiging gekom het dat dit moreel onverdedigbaar is. Dít is wat die stemme – die gekryts van die mot in die oor – hom in die lang nagte vertel.

Vir Max en A.P. Brink en die De Klerks en die hele Naspersstal wat die algehele verdwyning van die Afrikaner, van sy verswelging in die bruin- en swartheid van Suid-Afrika, begeer, is die voortsetting van die Afrikaner se vergunning ’n absolute hemelse gawe. Die Afrikaner is nog in ’n gedaante daar en so hou hy die ekonomie en die strukture van Suid-Afrika aanmekaar en die donker massas staan bakhand nader. Die Afrikanervolk is nou soos ’n Vegas-tipe dobbelmasjien, ’n eenarmbandiet, om die beskrywing letterlik te vertaal. Maar die wonder van hierdie dobbelmasjien is dat niks aan die toeval oorgelaat word nie. Jy het nie geluk nodig nie. Wanneer enige ambisielose, werkverskrikte swart mens iets nodig het, dan trek Max-hulle net aan die arm – daardie hefboom, die gewete – en die Afrikaner stort net nog geld en geleentheid en status op die begunstigde uit. Dit werk élke keer.

En hoe word daardie arm getrek? Maklik. Dit is in ’n eenwoordkode: Sê net…  “Apartheid” en daar is niks in Suid-Afrika wat nie joune is nie. “Apartheid!” en die Afrikaner se gewete bars los. “Apartheid!” en jy kan sy werk, sy geld, sy plaas, sy dorpe, sy kultuur, sy geskiedenis, sy skole, sy universiteite en selfs sy lewe vat. “Apartheid!” en die hefboom rem teen die Afrikaner en Suid-Afrika en al sy volheid is joune, my swart seun. Sê “Apartheid!” en die Afrikaner staan opsy, “Apartheid!” en hy ontbloot sy borskas vir jou assegaai om te deurboor, “Apartheid!” en hy lag vir jou grappies, “Apartheid” en die witvrou lê om verkrag te word…

Solank as wat die Afrikaner se gewete gemanipuleer kan word, sal hierdie wonderlike sisteem oorleef en die einde daarvan sal eers kom as die Afrikaner algeheel verdwyn het.

Maar – en in die spelonk waarheen Max du Preez onttrek, sidder hy, sluk hy swaar, betas hy die sianiedkapsule – as die Afrikaner sy skuldgevoel oor Apartheid verloor, of as hy besef dat die ANC en sy liberale, blanke lakeie nie meer vasstaan op ferm morele grond nie, dan tuimel die stelsel ineen en sal die Afrikaner sy vergunning ophef en homself van die Nuwe Suid-Afrika onttrek en oor daardie nirvana sal dan geskryf kan word: Zimbabwe, Tanzanië, Ivoorkus, Ghana, Kongo, Uganda…

Tot onlangs toe het Max gevoel die Afrikaner se gewete is nog ferm in die greep van die liberaliste. Dié het tog die oordonderende, kondisionerende kakofonie van die land se media tot hulle beskikking. Maar nou, nou weet hy nie so mooi nie, want tussen die gerammel deur kan grepies van uitroepe gehoor word. En Max weet, hy weet presíés, waar die klanke vandaan sal kom wat die hefboom van die Afrikaner se gewete uit die liberale greep sal ruk. Wat hy meer as enige iets vrees is dat die Afrikaner ’n nuwe waardering van die uitwerking van die Anglo-Boereoorlog sal ontwikkel. Want dan gaan een van die liberaliste se twee magselemente oor die Afrikaner verdwyn. Óf die hefboom gaan versplinter, óf die bouwerk waarop die manipuleerders staan, gaan verkrummel.

As die Afrikaners van vandag opnuut besef hoe onregverdig die Engelse se oorlog teen sy voorouers was en hoe ongenadiglik hulle verdelg, verstoot en verkleineer is, sal hy ’n nuwe waardering hê vir sy voorgangers se keuses in 1948 toe die Afrikaner sy politieke mag deur die Nasionale Party gekonsolideer het. Met ’n uitdelgingstryd nog vars in die volk se gemoed en die proses om homself teen alle teenstand en hoop in weer op te rig, nog in volle swang, sou dit ’n verraad teen die Volk en dié se kinders gewees het as die Afrikaner in daardie jare die mag oor die Volk aan ’n onbekwame en vyandige nasie oorhandig het.

In die aangesig van hierdie herwaardering, is die liberalis tussen twee helse vure. Hy kan die Anglo-Boereoorlog as onbenullig afmaak, die Britte se vergrype daarin wegpraat en sy skouers optrek vir die Boere se lyding daarin. Maar dan het hy geen morele gewig meer oor om vir die Afrikaner voor te skryf hoe hy boete vir Apartheid moet doen nie. Aan die ander kant, erken hy die misdade teen die Afrikanervolk in die Oorlog, erken hy ook daarmee dat Apartheid ’n noodwendige gevolg daarvan was en dat die Afrikaner ruimskoots vergoed het vir enige wanstappe wat hy in daardie tyd geneem het. Watter keuse Du Preez ook mag uitoefen, as die Engelse Oorlog weer deel van die Volk se bewussyn word, is mense soos Max, saam met hulle patetiese Nuwe Suid-Afrika wat so afhanklik is van die Afrikaner, solied in hulle ghwar in.

 Met hierdie mot in sy oor, ontvang Max du Preez vroeër vanjaar ’n televisiespan van Carte Blanche wat wil weet wat dink hy van dáárdie musikale fenomeen, De la Rey. Die mot grou en vroetel en vreet. Die Afrikaner hét nie meer helde nie, verduidelik hy. Al vir ’n honderd jaar nie meer nie, as jy vir Mannetjies Roux en Frik du Preez buite rekening laat en húlle was voetbalspelers. Met sulke massiewe ongeërgdheid rangeer hy ’n ontsaglike versameling soldate, predikante, geneeshere, vir Smuts en Verwoerd, skrywers, denkers, uitvinders, ingenieurs – helde, een en elk – na die buitenste duisternis van sy geheueverlies. En die Boere wat nou vra om deur ’n De la Rey gelei te word, is rassiste, beduie hy. Max is bereid om op die waarheid te sit en hierdie onnoselheid voor die kamera kwyt te raak – NET SOLANK DIE FOKUS WEG VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG VERSKUIF. Hy probeer sy ou-ou rook-en-spieëlsslenter. Kom ons dra die gesprek oor na die terrein van rassisme en apartheid. Die hefboom wikkel onder die Afrikaner. Die eenarmbandiet giet uit en giet uit. Alles is hunky-dory; die Kaap is weer Engels. Ons kan met walglike wellus ons vergryp aan S.E.B. en regstellende aksie want… Apartheid!

Maar die invokasie van die towerspreuk word al hoe minder effektief. En hier, daar, hier en daar, oral, begin uitgesproke gedagtes oor die wonder van die Afrikaner se oorlewing na die Engelse Oorlog in ywerige vlammetjies uitslaan. En Max du Preez se mond trek styf binne die lyne van sy baard en – daardie Tourette’s! – hy gryp die eerste petrolkannetjies waarop hy sy hande kan lê en begin vure doodslaan en slaan en slaan totdat die vlamme naderhand soos die hel se inferno self om hom staan.

‘n Russiese toebroodjie in Azanië

Bliksems! En die een vlammetjie wat nou opgewoerts het tot ‘n allerdreigende vuur is een wat al lankal nie meer moes gebrand het nie. Want dit was al geruime tyd wat Dan Roodt – daardie Dan Roodt, Max se Nemesis – geskryf het van Wilhelm Vallentin, die Duitse dokter wat in die Engelse Oorlog deel van die Boeremagte was en wat aangevoer het dat Engelse soldate en hulle swart handlangers soveel as 35% van die Boerevroue verkrag het. ’n Onrustige stilte het daaroor gedaal totdat Loammi Wolf, ’n onbeholpe bondgenoot van Max du Preez, iets bitsigs daaroor te skryf gehad het en ‘n sekere falanks Versteende Verstande oor haar kleinsieligheid gefrons het.

Toe begin die mot weer raas en grou, die Tourette’s skop in, Max gryp die pen. A!, as hy maar net die pen kon terugsuig op een of ander manier in die geel Bic in, dan sou hy maar die mot laat raas het en die Tourette’s maar laat spasmas maak.

Maar, nee, toe trek hy sy pen. Heel bo aan skryf hy: “Laat die ABO met rus.” Die mense dink dit is die titel van sy artikel en dit is ja, maar dit is soveel meer. Dit is ‘n pleidooi, ‘n gebed, imprekasie, smeking… om vadersnaam, moenie oor die Oorlog praat nie. Weet julle dan nie wat julle doen nie? Alles in die Nuwe Suid-Afrika loop dan so volgens plan. Die Afrikaner ken sy plek en weet wat sy funksie is in die Groter Prentjie van ons reënboogland. Hy is gewillig en gedweë die eenarmbandiet. “Apartheid!” en hy gee. Hy is soos— soos ‘n Russiese toebroodjie, om ‘n analogie uit die ghoelag-kultuur te leen.

Dit was eenvoudig, maar helse moeilik, om uit ‘n Siberiese strafkamp te ontsnap. Daar was nie veel in die lyn van doringdraad rondom dit nie. Maar om weg te kom moet jy deur die oneindige ysvlaktes van die Steppe stap. Wanneer ‘n paar taai langtermyngevangenes besluit om dit te probeer, het hulle eers ‘n derde, en liggaamlik swakker, medegevangene oortuig om saam te gaan. Hy was agter sy rug bekend as die “toebroodjie.” Want jy kan net soveel kos saamdra. So, dit is wonderlik gerieflik as 70 kilogram se vleis vir ‘n groot deel van die pad saam met jou loop. Wanneer hy omval, wonderlik, want dan het die twee groter lummels vars vleis om hulle vir die res van die reis deur te sien.

En dit is presies wat die Afrikaner is vir die res van Suid-Afrika: Die toebroodjie om die honger massas te vergesel op pad na die swart werkersparadys van Azanië. Geen swarte hoef opgelei, verantwoordelik, behendig, geduldig, hardwerkend of besorg te wees solank die Afrikaner langs hom is nie. Word die swartmens honger of is hy gulsig vir meer, slag en eet. Die Afrikaner is groot en taai. Dit sal ‘n lang ruk vat om hom te verorber. Maar, en hier wurg die desperaatheid aan Max du Preez se keel, die pelgrims op pad na algehele bevryding gaan van honger omkom as die toebroodjie ‘n entjie met die pad af omdraai en sê hy loop nie verder nie. Maak geen fout nie, die vinnigste manier vir die katastrofe om te gebeur, is om die Anglo-Boereoorlog weer deel van die Afrikaner-bewussyn te maak.

Daarom bid Max hardop op papier: “Laat die ABO met rus.”

Geen vreugde in stilte

Amen. Dis net, die mot hou nie aan knaag in die oortonnel nie. ‘n Literêre verdedigingsaanval kan nie net uit ‘n geïgnoreerde gebed vir ‘n titel bestaan nie. Max sal die Bic moet opwarm. Nou maar goed. Daar was eens ‘n Vrye Weekblad. Max du Preez voel hy kan sy man staan in ‘n debat en hy gaan dit met sulke vinnige omflankingstaktieke en mobiliteit van afleidings en statistieke doen dat geen eenarmbandiet / toebroodjie na die tyd sal huiwer om op bevel te gee en te gee en te gee nie.

Eers moet hy sy kwalifikasie in die debat bo alle twyfel stel. Hy is die kleinseun van twee oupas wat offisiere in die Boeremagte was. Sy groot kinderheld was generaal de Wet. Hy voeg darem haastig by dat daar nog een ander, Koning Moshoeshoe van Basoetoeland, was. (Max is, na alles, nie wit of swart nie maar wit en swart en alles tussen in. Hy is mos alles vir almal en  niks vir enige iemand nie.)

Dan is hy reg vir sy groot betoog: Dat die presiese syfer van verkragtings nie bepaal kan word nie. As daar nie 35 persent van die vroue  ofte wel, bereken hy later, 38 500 vroue verkrag is nie, is Dan Roodt se stelling “skandalig en verregaande.” As daar net 38 499 vroue verkrag is, lei die leser af, is Max reg en bly die Afrikaner padkos.

Max is vol vertroue dat daar nie grootskaalse verkragtings van Afrikaner-vroue was nie. Hoe weet hy? Nie deur wat geskryf is nie maar deur wat nié geskryf is nie. Hy gebruik ‘n argument uit stiltswye, ‘n efferige filosofiese tegniek wat selde enige naderbetragting kan weerstaan, dit weet hy, maar hy moet deurdruk, moet hy nie? Daarom maak hy baie daarvan dat “gesoute historici soos Pakenham en Hermann Giliomee” “geen melding” van die verkragtings maak nie. Maar sê nou hy gaan blaai agterna deur, sê nou maar, Giliomee se “lywige biografie oor die Afrikaners.” Dan gaan hy besef dat Giliomee net 3 van 666 bladsye afstaan aan die sentrale vormingselement van die moderne Afrikaner: Die verskroeiing van hulle land en die afgryse van die konsentrasiekampe. Stilswye kan nooit harder praat as feite nie en daar is baie getuienis oor hierdie verkragtings. Maar Max het nie brieke nie.

“En, me. Salzwedel,” betig hy in ‘n opvolgartikel in reaksie op ‘n vurige jong verslaggewer wat haar vir hom op skrif vererg het, “soos Dan Roodt en Dries Raath moet jy nog leer dat ‘n mens darem meer as net een hoogs twyfelagtige bron moet hê voor jy iets as evangelie verkondig.”

Dis toe dat kenners toustaan om hom op die smoel te neuk met ritse verwysings na ander bronne wat staaf dat die vernederende, walglike verkragtings van Boerevroue deur die Engelse ‘n algemene afstootlike praktyk was. Hulle gesamentlike mening is dat Max du Preez blykbaar nog moet leer om nie sy betoog te stut met ‘n enkele, tengerige debatstegniek – die argument uit stilswye – nie.

Teen die einde van sy ontstelde betoog het Max du Preez blykbaar heeltemal die gawe van samehangende denke verloor. Hy reken Paul Kruger, M.T. Steyn, De Wet en Koos de la Rey sal ongemaklik in hulle grafte omdraai omdat Dan Roodt en Andries Raath te vertelle het van die Britse soldate se verkragting van Boerevroue. Soos altyd as die mot en die Tourette’s hom pak, kan hy nie ‘n argument deurdink nie. Dit gaan hom verby dat Roodt staan by wat vir die Boerehelde belangrik was: Die vryheid en beskikking oor eie lot van die Afrikaner. Dáárvoor het hulle oorlog gemaak.

En daar’s die vervloekte Oorlog weer.

Om dit weg te doof, om die mot nie langer te hoor nie, moet hy iets sê, enige iets. Toe sê hy maar Moshoeshoe en Adam Kok is sy voorouers.

Die laaste plakkaat

Ou struggle-joernaliste sterf nie, hulle hang net rond waar jonger, slimmer koerantmense goedkoop drank koop.

Deesdae, al wat Max du Preez hoef te doen, is om op die buitekringe van ‘n mediagesprek te staan en wag dat hulle ‘n kodewoord sal sê. Miskien praat ‘n sportskrywer van rugby-“pale” of ‘n verbruikerswaghond sê iets van slag-“pale”. Wie weet? Maak nie saak nie. As iemand in sy omgewing net die woord “paal” of  “pale” gebruik, kan Max bewend vooroorleun en sê: “Het ek julle al ooit vertel van die plakkate wat ons teen die pale gesit het in Tshwane, toe nog Pretoria? Dit was met die referendum. Toe weet ons nie of ons die bevolking moet aanraai om ‘ja’ of ‘nee’ te stem nie, toe skryf ons maar op ons plakkaat ‘Ja-nee’.

Vang julle dit? Vang julle dit? ‘Ja-nee.’ Sien, ‘ja’ en ‘nee’, of dan nie ‘ja’ of  ‘nee’ nie. En die volgende week, weet julle wat skryf ons toe, luister, dis eintlik baie goed ons skryf toe op die…”

Die jonges knip agter sy rug vir mekaar oog en maak asof hulle die storie, wat hulle al ‘n honderd maal gehoor het en wat om mee te begin nie vreeslik snaaks was nie, hulle regtig kielie.

So in die nagte sit hy in sy studeerkamer en staar na die geraamde paalplakkate. Hy vryf oor sy baard, sy Max du Preez-baard en die hare is yl, grys en bros. Die mot vreet en raas en raas en vreet en vreet in sy oortonnel.

En eendag toe vreet die mot deur die skedel, al langs die binnewand af en, van vooraf, in die brein in. Dit eet die verbinding tussen die lobbe morsaf. A, die saligheid.

“Ja,” sê die een breinlob.

“Nee,” sê die ander.

“Ja-nee,” sê die een weer.

“Die mot,” sê die ander, “dis jammer ons is nie Versteende Verstande nie. Dan sou hy nooit ingevreet gekry het nie.”

“Versteende Verstande,” sê die een. “Daar is iets ergers.”

“Ja-nee,” sê die ander. “Om ‘n joiner te wees.”

En met die laaste stertslag, die laaste stuiptrekking van ‘n mediadinosourus waarvoor niemand meer plek of nut het nie, is dit asof al die donker in die wêreld ‘n stywe kring trek om die kolletjie lig, reg voor in sy bewussyn.

Net dan, asof van nêrens, hoor hy die stemme van sy Ouma Bertie, sy Oupa Johannes Petrus du Preez, sy pa en nog baie stemme wat hy nie herken nie. En hulle praat Afrikaans in ‘n spreekkoor. Op een of ander manier wat net in drome kan gebeur, is dit asof die woorde self in ‘n soort jellie set en dan versteen. ‘n Jong kunstenaar pak die letters op ‘n groot, reghoekige vel papier en trek die buitelyne af en kleur dan binne die lyne met ‘n dik, swaar vulpen in. Hy vat ‘n geel Bic-pen en boor met die punt twee gaatjies in die middel bo en twee gaatjies in die middel onder en ryg blou plastieklyn daardeur.

Hy is fluit-fluit daaruit; fluit ‘n lied oor ‘n generaal wat kom om sy volk te kom lei. Hy kom by ‘n lamppaal langs ‘n besige straat en bind die lyne daarom vas.

Die dinosourus kan nou sien dit ís ‘n plakkaat, ‘n koerant se paalplakkaat. Hy het verwag dat dit ‘n nuwe plakkaat vir Die Vrye Weekblad sal wees. Maar dit is nie.

Die mashoof van die plakkaat is vir ‘n koerant met die naam: “Die Wye Vreesblad.”

Daarop is die woorde geskryf van sy Ouma Bertie en sy Oupa Johannes Petrus du Preez en van ‘n miljoen ander.

Hy lees: “Ag NEE Max,” en maak sy oë toe.

ТепловойФільчаков Олександр Васильович

Die eenarmbandiet, ‘n toebroodjie op die Steppe en die baard van Max du Preez 2

ImageGustav Venter sit  in dié tweede aflewering sy ontleding van Max du Preez, skrywer van "die mees onsamehangende rubrieke in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse perswese", voort.

Die bewaarder van die rewolusie

Maar hulle het geëindig, het hulle nie? As daar een iemand is vir wie rewolusionêre sukses te vinnig gekom het, dan is dit vir Max du Preez. Sy toegelate vyftien minute was so bitter gou verby… Een oomblik was hy nog die parmantige jong salm wat stroomop geswem het om sy verhouding met sy plekkie in die land se geskiedenis te konsumeer… en toe, en toe kom ’n magtige, ongeduldige stroom – van agter af, bergop! – en dit spoel oor Max, dit rol en tol hom holderstebolder en hy is net ’n klein stokkie dryfhout op ’n helse groot rivier – wat in dieselfde rigting as hy gaan en nie net word hy – o, die onreg! – nie meer raakgesien of gehoor nie, al sy andersheid het in een oomblik verdwyn, skielik is hy net ’n hooinaald in ’n bliksemse groot mied. Almal dink soos hy en hy dink soos almal. Nou is dit die mense wat soos die Versteende Verstande praat, wat anders is. Die idees van die Vrye Weekblad – of ten minste die herinnering daaraan – is nou geheilig, hoofstroom, ortodoks. Max du Preez, hy met die rewolusionêre ywer en die Max-du-Preez-stylbaard, het konvensioneel geword en vir ’n rebel is dit die dood self.

Nog steeds… ja, dit gaan oor wat jy wéét wat reg is en nie oor die erkenning nie, maar darem… hy sou darem verwag het om deel van die triomfmars te gewees het. Natuurlik wás daar nie so ’n optog nie en hoe onregverdig, hoe onweldeurdag, was dít nie. Want dit is hoe hy in daardie dae van die stuitige Vrye Weekblad-plakkate dit gesien het: So ’n Romeinsestyloptog deur Kaapstad, al met Adderley-straat af, en dan regs, om die Kasteel na die Parade waar ’n jillende skare as’t ware ontbrand in hulle nuwe vryheidsdrif. Heel voor sal Mandela – Caesar! – in ’n strydwa wees, getrek deur ’n wit, ’n swart en ’n grys perd en met Desmond Tutu wat agter hom staan en ’n lourierkransie bo die Heilige Nelson se kop hou. Agter hulle, slegs geklee in verflenterde langbroeke wat net onder die knieë afgeskeur is, kom die Verpletterde Versteende Verstande, die vyande van die nasie – daar is FW en Pik en PW en ’n tjankende Roelfie en al die ander eens selfvoldane lede van die voormalige regime. Hulle strompel en struikel, verwaarloos en verweer, oë wat wild staan in vrees en smeking, hulle arms voor hulle styfgetrek deur die dik kettings wat om hulle rougeskaafde polse vasgebout is en wat agter aan Madiba se strydwa gehaak is.

Agter die Oorwinnaar kom sy Dapper Manne, eers Thabo en Cyril in een strydwa met geel, groen en swart speke, en hulle wuif, vingerpunte na bo en kneukels na buite, vir die aanbiddende skare wat palmtakke voor hulle gooi.

Max was darem beskeie genoeg om te weet dat hy nie in daardie twee opsygesette strydwaens hoort nie, en ook nie in dié net daarna nie; die waens  van die volgende stratum helde, die Veertig, om dit met Koning Dawid se triomf te vergelyk, die bende helde: Slovo, Maharaj, Govan Mbeki, Selebi, Sexwale, Phosa, Lekota, Kasrils…

Nee, Max ken sy plek en dit is nie in die eerste paar eskaders  strydwaens nie maar, vervlaks, hy hóórt in daardie optog, het dit verdien, hy en die ander liberale blankes wat Afrikaners was in die tyd toe daar nog algemene sekerheid was oor wie die Afrikaners is. Hy en Van Zyl Slabbert en Daling en Eloff en die res van daardie kordaat Dakar-reisigers. Miskien kan hulle tog in so ’n los falanks agter in die stoet kom, amper soos ’n land se hele kontingent Olimpiese atlete wat die stadion tydens die openingseremonie binnekom en vir die skare wuif.

Maar daar was nie plek vir Max en sy baard in die heldeparade, nie regtig nie. So, toe wag hy maar vir die frenetiese wederkerige rugkloppery van die ANC om te vervaag, vir die eerste orgie van selfvoldaanheid om te kwyn, en hy wag vir die klop aan sy deur, vir sy eerste aansig van die presidensiële kavalkade in swart limousines wat teen die randsteen trek, wag vir die statige president om uit te klim om vir hom, Max du Preez met die baard, te kom bedank vir sy heldhaftige deelname aan die vrysetting van die mense van die hele Suid-Afrika. Maar hierdie held was bestem om onbesonge te wees.

Met die stilte van ongesonge ANC-lofliedere wat eggo’s trek in sy ore, moes Max vir homself ’n nuwe rol uitdink. Dit was nie maklik nie want, soos ’n gasmasker in vredestyd, het hy geen nut meer nie. Wie het ’n aanwending vir ’n skrywer van stuitige plakkaatkrete? O, daar was darem die outobiografie om sy aandag af te trek en toe ’n opportunistiese klikboek oor Louis Luyt en daardie opdragwerkie vir die ANC, ’n bydrae tot die samestelling van Turning Points, die herinterpretasie van Suid-Afrikaanse geskiedenis vir skoolkinders waarin hy so verbete probeer het om die Afrikaner weg te skryf. Hy het selfs ’n heel nuwe loopbaan probeer: Groenteboer in die Ficksburg-Rosendal omgewing, bedeel met status as soort van ’n afgetrede politieke ghoeroe. Maar, nadat ’n arbeiderskrisis sy boerdery ontwortel het, het hy na sy ou weë teruggestrompel.

Dis toe dat sy lewe krimp totdat dit inpas in sy studeerkamer, die een met daardie “Ja-Nee”-plakkate teen die muur; ‘n museum vir Die Vrye Weekblad, daardie astrante klein koerant vol van al daardie Dirk Coetzee-stories, gekraaiery oor Piet Koornhof (“Piet is te sexy vir sy volk”, was die plakkaatkreet) en, vervloekte noodlot!, publish-and-be-damned-stories oor Lothar Neethling, ’n mistasting waarvoor miljoene gehef is in hofonkoste, geld wat nóg Max nóg sy koerantjie gehad het en wat toe die tragiese einde van Die VWB was. Hy probeer so hard om die proto-Nuwe Suid-Afrikaner te wees, waar hy nie wit of swart is nie maar wit én swart en alles tussenin. Max du Preez het alles vir almal en niks vir enige iemand geword nie.

Vir die perswese in die land is hy sout wat laf geword het. Niemand weet regtig wat om met hom te maak nie. So dan en wan sal ’n koerant vir hom ’n afgekoude been gooi deur een van sy verontwaardigde meningsartikels te publiseer, maar die suspisie bestaan dat dit gedoen word in ‘n gees verwant aan regstellende aksie. Die koerantbedryf akkommodeer uiteraard deesdae skrywers met laerskoolvlakprosastyl soos Matshikiza, Qwelane, Wyngaard en Jeffreys net omdat hulle nie blank is nie. Hulle kan tog maar vir Max du Preez, uit erkenning vir sy lojale verraad van die Afrikaners, beloon deur hom toe te laat om vir hulle hier en daar ’n ietsie te skryf.

Die ou joernalistieke instink is nog daar… of… nee, dit is nie eintlik nie. Max du Preez is nou nie eintlik ’n joernalis soos ’n joernalis-joernalis nie. (Dis nou nie juis dat hy uitgaan en feite versamel en ontleed en rapporteer nie.) Nee, hy is ’n skepsel van die Nuwe Suid-Afrika se media. Hy is ’n “ontleder” of ’n “kommentator.” ‘n Ontleder/kommentator is ‘n koerantman met te veel ondervinding om koerantwerk te doen, met te veel status om deur nuuswerwing en persoonlike onderhoude besig gehou te word en te veel persoonlikheidswaarde om sy woorde te tel. Max, die kommentator/ontleder, is op ‘n spesifieke, doelvervaardigde kruisvaart. Dink aan hom as soort van die standaardeburo van die Nuwe Suid-Afrika, die sosiale nirvana wat hy en sy koerant, die een met die pittige lamppaalplakkate, help skep het, die land wat soos droë brood voor sy oë en tot sy hewige ontsteltenis verkrummel.

Al hoe meer iesegrimmig, al hoe meer ontgogel deur die minagting waarmee hy opsy geskuif is en deur die ANC se wanprestasie, onttrek hy dieper in sy studeerkamer, sy mausoleum vir die diepbetreurde Vrye Weekblad in, en hy wag dat hulle sal kom, die kader kamerade by wie hy homself met soveel ywer en broederskap ingewerp het, dat hulle kan kom en sit, dat hulle kan praat, dat  hy vir hulle kan sê om die geloof te behou. Soms dink hy hy sal vir hulle, selfdwepende swape wat hulle is, die Waarheid vertel; vertel wat die stemme vir hom sê wanneer hy stil is. Maar hy weet hy sal dit nie doen nie en, om brutaal eerlik te wees, hy kan dit nie doen nie want hy is self te  besig om die geraas van die mot in die oor te probeer ignoreer. Max du Preez het nie enige geloofsopsies oor nie. Hy móét in die Nuwe Suid-Afrika glo; het so lank daaroor gedroom en daarvoor gewerk, al daardie paalplakkate uitgedink en sy eie mense in die rug gesteek. As daar nie ’n Nuwe Suid-Afrika is nie… maar wag, wag-wag, hy hoef nie eers daaraan te dink nie. Die Nuwe Suid-Afrika, land van vryheid en plek vir almal om die pappot, waar elkeen skrander, sensitief en hardwerkend is, waar almal almal se broer is, daardie Nuwe Suid-Afrika bestaan, dis hiér vervlaks, hier om te bly en Max du Preez is die profeet daarvan en net soos wat hy in ‘n aanval van joernalistieke Tourette’s die skeptici verdryf, het hy ook die taak om die Oorwinnaar se dissipels se morele kompas gekalibreer te hou. Sy deur staan vir die afvalliges oop.

Terwyl hy vir ketters wag om in sy studeerkamer te kom sit waar hy vir hulle kan sê om terug te keer na die ware geloof, tas Max se rustelose oë deur die menings van die dag, soek-soek-soek na die spore van die ontkenners van die wonderwerk van die Nuwe Suid-Afrika, en as hy dit vind in die meningsblaaie van die koerante dan – hy kan dit nie help nie – dan slaan hy toe, dan trek hy daardie ou, welgeslete oranje Bic-pen en hy slaan verwoed om hom heen. As iemand, ’n salm wat nou stroomaf swem teen die stroom van die magtige rewolusie in, die Nuwe Suid-Afrika se waardigheid ontken, dan kan Max homself nie help nie –  daar ís nie pille vir sy Tourette’s nie – en hy moet die saak regworstel in die blaaie van die pers. Ongelukkig is hy deesdae soos ’n ou bokser wie se bene planke toe is en wie se tydsberekening oor die muur is. Hy is ’n maklike teiken en jonger, wakkerder, vinniger skrywers slaan hom maklik raak. Maar Max kan homself nie help nie. As hy nie skryf en raas nie, die stemme, daardie waarheid in die nag, sal hom tot raserny dryf. So, hy skryf maar.

Die gevolg is van die mees onsamehangende rubrieke in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse perswese – bewerig in logika, vol onverantwoordelike gevolgtrekkinge en flou toepassings.

En as jy eers iets geskryf het, kan jy dit nie as’t ware óntskryf nie. As hy kon, sou hy. Gereeld. Soos daardie rubriek van hom verlede jaar waarin hy gal kots oor “die blanke gekerm” wat hom “doof maak.” Daarin blyk dit dat hy verbaas en ontsteld is dat witmense kla oor sulke beuselagtighede soos plaasmoorde en die algehele, verpletterende wanbestuur van die land deur swartmense. Swartes kla nie, sê hy, miljoene van hulle kla.(?!) Hy redeneer dat witmense net die reg het om te murmureer as hulle eers kla oor moord op swart mense. Die Afrikaner mag slegs ontsteld wees oor die georganiseerde aftakeling van sy kultuur as hy eers, deur monde van Dan Roodt en Hermann Giliomee, kla oor die miskenning van Zoeloe en SeSotho deur die staat. Buitendien, stoom hy voort, toeskouers by ’n krieketwedstryd het ’n swart speler van Suid-Afrika ’n “kaffer” genoem en dit is baie meer skadelik en onhoflik, lei ons by hom af, as net nog ’n wit tannie wat verwurg word of net nog – gaap –  ’n blanke meisie wat deur ’n swart bende verkrag word. Eers as almal seker is dat Ntini nooit weer so getraumatiseer word nie, mag daar bedenkinge uitgespreek word oor die praktyk van rampokkers om wit boere uit te moor.

Onlogies, onsamehangend, ja, maar as die Tourette’s eers sy tikvingers geskaak het, kan hy dit nie keer nie. Hy skryf voor hy dink. By tye grinnik die lesers oor ou Max, trek hulle skouers op en ignoreer hom. Maar soms strompel hy in ’n debat in waarvoor hy glad nie toegerus is nie, soos toe hy met Dan Roodt slaags geraak het en as kampvegter vir die kultuur van Afrika probeer het om ’n saak daarvoor uit te maak dat dit superieur is bo die Westerse beskawing. Roodt het hom met soveel minagting afgestof dat ’n mens sou dink dat dit net ‘n ontleder/kommentator van die onnoselste soort kan wees wat sou terugkeer vir nog. As Max du Preez maar net in sy studeerkamer in kon verdwyn en daar bly. Maar hy kan nie. Hy kan doodeenvoudig nie.
 

Moenie môre se derde en laaste aflewering in dié reeks misloop nie! 

free casino bonus games slotsДанильченко Юрий прокурор