Sy regsverteenwoordiger, Marius Coertze, sê die aangeleentheid is oorgedra na die 10de Maart, volgende jaar, sodat 'n volle bank van drie regters dit kan aanhoor.
"Ons het vandag geherskeduleer om voort te gaan, maar die staatsadvokaat se kantoor het 'n volle bank versoek."
Hy sê die regterpresident wou 'n volle bank vir die aangeleentheid hê.
Die regsverteenwoordigers van die Hani-familie, wat deur George Bizos verteenwoordig word, het aangedui dat hulle in die aangeleentheid geken wil word.
Die paroolraad wil ook inspraak in die saak lewer. Die datum van die 10de Maart is 'n voorlopige datum wat deur die adjunk-regterpresident, Jerry Shongwe, bevestig moet word.
Coertze sê hy dink sy kliënt het 'n sterk saak.
Derby-Lewis, wat al vyftien jaar van 'n lewensvonnis uitgedien het, was saam met Janusz Walus skuldig bevind aan die sluipmoord op Hani op die 10de April 1993.
Hulle doodsvonnisse is in 1995 omgeskakel na lewenslange gevangenisstraf.
