Nkandla se eerste sondebok behou werk

‘n Werknemer van die departement van openbare werke is die eerste sondebok van die omstrede opgraderings van R246 miljoen aan pres. Jacob Zuma se huis in Nkandla, het City Press Sondag berig.

Volgens bronne is Itumeleng Molosi (58), direkteur van projekte, geskors nadat hy skuldig gepleit het op aanklag dat hy onreëlmatig kontrakteurs aangestel het en aanskaffingsprosedures verontagsaam het, het die koerant berig.

Hy het glo verlede Maandag die ooreenkoms onderteken nadat hy onderneem het om skuldig te pleit.

Molosi sal glo sy pos behou nadat die departement hom twee maande lank sonder betaling geskors het.

Volgens Molosi het hyself asook ander werknemers onder druk geswig om prosedures te verontagsaam omdat dit die president se huis was.

Elf ander beamptes, wat almal deur die Vereniging vir Staatsamptenare (PSA) verteenwoordig word, kan soortgelyke ooreenkomste aangaan om uitgerekte verhore te vermy.