In seker die mees frappante erkenning dat swart leerders nie intellektueel die mas opkom nie en nie oor die vermoë beskik om op gelyke voet met hulle wit eweknieë mee te ding nie, het die departement vir basiese onderwys 'n plan bekend gestel om matriek makliker te maak.
Die aankondiging het groot woede in akademiese kringe ontlok.
Die Sunday Times berig dié departement stel voor dat die vereiste om 'n onderskeiding te verkry, van 80% na 70% verlaag moet word.
'n Klousule wat onlangs in die regering se Gazette gepubliseer is, stel ook voor dat 'n algehele onderskeiding vervolgens toegeken sal word vir 80% in slegs drie vakke behaal en minstens 60% in drie ander vakke.
'n Skoolhoof het dit as die "verdomming" van matriek beskryf.
Die voorstel kom 'n maand nadat die liggaam wat tersiêre instellings verteenwoordig, Hoër Onderwys Suid-Afrika, gesê het eerstejaars kan skaars lees, skryf of somme doen.
Hoe die departement se nuwe reëls bestaande probleme in geletterdheid en gesyferdheid sal oplos, is nie seker nie. Dit kan die reeds benarde situasie slegs vererger.
Die minister gemoeid met basiese onderwys, Angie Motshekga, sê sy is "onseker" oor die beweegredes vir haar departement se plan.
Sy het selfs aan die Sunday Times erken dat die gedagte "heel vreemd" is. Kennelik het die minister geen behul van wat in haar departement aangaan nie en sy is in geen besluit geken nie.
Die Gazette, van 26 August 2009, gee die buitelyne vir die beleid en regulasies vir nuwe seniorsertifikaateksamens en ook besonderhede oor die merieteslaagsyfers.
Die slaagvereistes is deur die bank verlaag en daar word voorgestel dat enige kandidaat 2% mag bykry indien nodig om te kan slaag. Die minimumslaagvereiste vir matriek is 40% in drie vakke en 30% in drie ander en die 2% sal by enige vak bygevoeg kan word om die leerder te laat deurkom.
Die departement hou vol dat hulle nie standaarde wil verlaag nie en sê sekere belangegroepe voel die stap sal "leerders motiveer".
Eugene Rabie, hoofbestuurder van Umalusi, die liggaam wat Graad 12-eksamens monitor, sê onder die nuwe stelsel tel elke vak afsonderlik waar 'n onderskeiding voorheen op 'n gemiddeld van 80% gegrond was.
Die besluit sal die toekenning van beurse vergemaklik.
